Update
OUDTSHOORN NUUS - Dit gaan 'n lang pad wees, maar Smitswinkel sal herbou word.
Só sê die 21-jarige Jack Claassen, eienaar van die gewilde gesinsrestaurant wat verlede Vrydag, 17 Julie, in 'n brand verwoes is.
Vir Jack is die verlies van Smitswinkel veel meer as net 'n finansiële terugslag. Die restaurant was ook 'n belangrike deel van sy pa, André Claassen, se nalatenskap.
Jack het die besigheid in Oktober verlede jaar ná sy pa se dood oorgeneem. André het Smitswinkel vir bykans 13 jaar bestuur.
"Daar is memorabilia van my pa wat hy oor die jare bymekaargemaak het en nou heeltemal vernietig is. Karretjies wat hy oor die laaste 20 jaar versamel het en wat nooit weer vervang kan word nie. Die motorfietse wat daar gestaan het, dit was alles dinge wat baie sentiment gehad het, en dit is nou alles weg," het Jack gesê.
Hy was Vrydag buite Smitswinkel toe die brand uitgebreek het.
"Die brand het by die kaggel se skoorsteen in die dak begin. Iemand het geskree dat dit brand. Ons het probeer om die brand met brandblussers te blus, maar dit het so vinnig versprei dat daar geen manier was waarop ons dit kon keer nie."
'n Brand het Vrydag 17 Julie Smitswinkel in puin gelê. Foto: Louise Mouton
Oudtshoorn-brandweer het op die toneel opgedaag, terwyl die weermag se brandweer ook bystand verleen het. Ondanks hul pogings is die gebou heeltemal verwoes.
Jack sê hy is dankbaar dat niemand in die brand beseer is nie.
"Die diere is ook oukei. Iemand het die voëltjiehok stukkend geknip sodat hulle kon vlieg. Ons kon darem van die voëls terugkry. Die ander diere is ook veilig. Die papegaai wat op die stoep gestaan het is ook veilig by my."
Die versekeraar se assessore moet die perseel nog besoek om die omvang van die skade te bepaal.
'n BackaBuddy-skarebefondsingsveldtog is van stapel gestuur om geld in te samel vir die herbou van Smitswinkel.
Volgens die veldtog het die brand Jack se enigste bron van inkomste verwoes.
"Smitswinkel was soveel meer as net 'n besigheid. Dit was sy droom, sy lewe en 'n plek vol jare se herinneringe, stories en onvervangbare memorabilia. Binne 'n paar uur was alles weg," lui die inskrywing op die veldtog-blad.
Die veldtog beklemtoon egter ook die ondersteuning wat Jack sedert die brand van die gemeenskap ontvang het.
Volgens die organiseerder van die veldtog ken sy Jack vandat hy 'n klein seuntjie was en sy beskryf sy lewenspad as een wat reeds talle uitdagings ingehou het.
"Hy word volgende maand 22 jaar oud. Hy het sy ma op 'n jong ouderdom verloor en verlede jaar ook sy pa. Ten spyte van alles het hy aangehou werk en iets besonders opgebou. Nou moet hy weer van voor af begin."
Klein Karoo Spar het ook hul harte oopgemaak met 'n Pay it Forward-veldtog, waartydens inkopiegangers by die betaalpunte R50, R100, R200 of 'n kombinasie van dié bedrae kan skenk. Die geld sal elke Vrydag in kosbewyse omskep word om die personeel van Smitswinkel, wat tans slegs op Werkloosheidsversekeringsfonds-betalings staatmaak, te ondersteun.
Cango Wildlife het ook aangebied om 'n uitstappie vir die personeel te reël. Jack het die gemeenskap en plaaslike besighede bedank vir hul ondersteuning en hulp gedurende hierdie moeilike tyd.
Vir Jack is die pad vorentoe lank, maar die doel bly duidelik: Smitswinkel moet weer sy deure oopmaak.
Lees ook:
- Brand by Smitswinkel: Brand begin glo in kombuis
- BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om smitswinkel nÁ verwoestende brand te help herbou
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’