OUDTSHOORN NUUS - 'n Tragiese trompopbotsing op die N2 tussen Heidelberg en Swellendam het Dinsdag-oggend, 7 Julie, vyf mense se lewens geëis en verskeie ander beseer.
Onder die slagoffers was Michele Lombard (34), 'n geliefde inwoner van Eljada-nasorgsentrum in Oudtshoorn, wat onderweg was om die skoolvakansie saam met haar familie deur te bring.
Die botsing het sowat agt kilometer buite Heidelberg in die rigting van Swellendam plaasgevind tussen 'n 22/25-sitplek-bussie van Potgieter Vervoerdienste van Oudtshoorn en 'n sportnutsvoertuig. Die identiteit van die gesin in die sportnutsvoertuig is nog nie bekend gemaak nie.
Volgens die woordvoerder van die Heidelberg-polisie, sers. Keeno Fredericks, word 'n saak van strafbare manslag ondersoek. Daar was 14 insittendes in die bussie en 'n gesin van vier in die sportnutsvoertuig.
Die 42-jarige bestuurder en 'n 44-jarige vroulike passasier van die sportnutsvoertuig, asook Lombard, wat 'n passasier van die bussie was, is op die toneel dood verklaar. 'n Dertienjarige seun, wat ook in die sportnutsvoertuig was, het later die dag in die Riversdal-hospitaal aan sy beserings beswyk.
Fredericks het Woensdagoggend bevestig dat 'n vyfde slagoffer, 'n 20-jarige jong man wat ook in die sportnutsvoertuig was, Woensdagoggend in die hospitaal dood is.
Volgens André Potgieter, eienaar van Potgieter Vervoerdienste, is die ongeluk 'n groot tragedie.
"Ons is geweldig geskok en hartseer oor wat gebeur het. Ons bestaan reeds 17 jaar en die veiligheid van ons passasiers is altyd ons eerste prioriteit. Hierdie ongeluk is hartverskeurend, en ons innige meegevoel gaan uit na almal wat daardeur geraak is."
Potgieter sê een van sy baie bekwame bestuurders het die bussie gery en Lombard het voor langs hom gesit.
"Die botsing het reg van voor gebeur. Ons bestuurder het alles in sy vermoë gedoen om dit te vermy, maar dit was eenvoudig onmoontlik. Die impak was aan die linkervoorkant van die bussie."
Die bestuurder is steeds in die hospitaal waar hy vir heupbeserings behandel word. Verskeie ander passasiers is ook beseer en ontvang behandeling in hospitale in Riversdal, Mosselbaai, Worcester en George.
Potgieter het kort ná die ongeluk self na die toneel gehaas.
"Dit was verskriklik om te aanskou. Ek het daar met Michele se ouers gepraat. Sy was 'n gereelde passasier by ons en ons het haar baie goed geken. Sy was 'n besonderse mens met 'n ongelooflike mooi persoonlikheid. Ons harte gaan uit na haar familie, sowel as na die families van die ander oorledenes."
Potgieter het Dinsdag ná die ongeluk ook seker gemaak dat die passasiers se bagasie aan hulle terugbesorg word.
"Ons voertuie is met opsporingstelsels en kameras toegerus. Ek glo die ondersoek sal uiteindelik duidelikheid gee oor presies wat gebeur het."
Geliefde lid van Eljada
Lombard was die afgelope 15 jaar 'n inwoner van die Eljada-nasorgsentrum, waar sy 'n geliefde lid van die gemeenskap was. Sy was Dinsdagoggend op pad huis toe om die skoolvakansie saam met haar familie deur te bring toe die ongeluk gebeur het.
Gerda Swart, bestuurder van Eljada-nasorgsentrum, sê Lombard se afsterwe laat 'n groot leemte.
"Michele was veel meer as net 'n inwoner. Sy was 'n gewaardeerde vriendin, spanmaat en geliefde lid van die Eljada-familie. Met haar spontane geaardheid, kreatiwiteit, liefdevolle hart en bereidwilligheid om altyd te help, het sy 'n besondere indruk op almal gemaak. Sy het nooit gehuiwer om in te spring waar hulp nodig was nie en was besonder betroubaar."
Volgens Swart is die verlies vir inwoners en personeel onbeskryflik.
"By Eljada is ons een groot gesin en ons harte is stukkend. Michele was opgewonde om huis toe te gaan omdat haar verjaarsdag om die draai was. Soos altyd is tasse gepak, almal gegroet en ons het verwag om haar weer terug te verwelkom. Hierdie keer het sy egter nie teruggekeer nie. Haar kamer gaan leeg bly en ons gaan haar baie mis."
Lombard word oorleef deur haar pa, stiefma, biologiese ma en twee susters.
Vorige berigte:
- N2 death toll rises to 5: Family of 4 killed in crash, beloved Eljada resident among deceased
- N2 Heidelberg crash death toll rises to four after 13-year-old boy succumbs to injuries
- Several deaths and injuries from crash near Heidelberg
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’