CALITZDORP NUUS - Die bekende inwoner Gielie Basson, is gereed om van 24 tot 28 September weer die Guinness-wêreldrekord vir die langste braaisessie aan te durf. Dié keer met 'n mikpunt van 100 uur ononderbroke braai.
Basson het reeds in 2023 die vorige rekord van 80 uur verbygesteek, maar sy poging is weens tegniese probleme ongeldig verklaar. Hierdie keer is hy vasbeslote om sukses te behaal, met 'n toegewyde tydouditeur en streng nakoming van Guinness se reëls.
Hy sê sy hoofdoel is om Calitzdorp en die Klein-Karoo op die wêreldkaart te plaas. "Ek doen dit vir die dorp sodat mense ons besighede en kelders kom besoek," sê hy.
Tydens die poging, wat by Zamani Grill plaasvind, beplan hy om meer as 150 hoenderdytjies, varktjops, beesblad, boerewors en mielies oor die kole te draai.
Die vleis word aan monitors, nooddienste en die Vygieshof-tehuis vir bejaardes geskenk.
Benewens die rekordpoging word daar ook fondse ingesamel vir Gamka-Oos Primêr in Calitzdorp, terwyl meer as 18 musikante ook gaan optree.
Die publiek is welkom om gratis in te loer, dag en nag, hom te ondersteun en saam fees te vier. Zamani sal oopbly vir die 100 uur.
Vorige artikels:
- Gielie braai 84 uur
- Gielie Basson het minder as 6 ure om te gaan
- Opvolg: Klein Karoo op die kole
- Klein Karoo op die kole: Gielie se potbrood
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’