OUDTSHOORN NUUS - Die Animal Care Team hou Saterdag 5 September hul jaarlikse Dieredag by die Vaardigheidskool se sportterrein in Albertstraat, Oudtshoorn, as deel van September se Hondsdolheidsmaand.
Die publiek word aangemoedig om hul honde en katte na die geleentheid te bring, waar gratis inentings teen hondsdolheid aangebied sal word.
Benewens hierdie gratis inentings, sal diere ook die geleentheid hê om hul jaarlikse inentings te ontvang en ontwurm te word. Dienste soos dipbehandeling en die inplanting van mikroskyfies sal ook beskikbaar wees.
Die Dieredag bied egter meer as net dieregesondheidsdienste.
Tussen 50 en 60 stalletjies sal op die dag beskikbaar wees, met onder meer kos, handgemaakte produkte, klere en verskeie ander items.
Troeteldiereienaars kan ook uitsien na spesiale aktiwiteite, waaronder troeteldierportrette en mini-hondsorgdienste. Verskeie pryse sal deur die loop van die dag uitgedeel word.
Die geleentheid vind van 09:00 tot 15:00 plaas en die Animal Care Team hoop om soveel moontlik troeteldiereienaars te bereik en aan te moedig om van die dienste gebruik te maak.
Vir meer inligting kan die Animal Care Team by 082 498 0177 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’