OUDTSHOORN NUUS - 'n Vennootskap wat 16 maande gelede tussen Cango Wildlife en Africa Skills gesluit is, het Dinsdag 1 September 'n realiteit geword met die amptelike opening van die Cango Academy in Oudtshoorn.
Volgens Douglas Eriksen, HUB van Cango Wildlife, is die stigting van die akademie daarop gerig om jongmense met vaardighede toe te rus wat hulle in staat sal stel om die behoefte aan opgeleide werknemers in Oudtshoorn te vul.
Volgens hom is die akademie, wat in samewerking met Africa Skills opgerig en bedryf word, nie bloot 'n plek om vaardighede aan te leer nie, maar 'n voortsetting van Cango Wildlife se visie van opleiding wat dekades gelede reeds met bewaringsopleiding begin het.
Hy het na die hoë werkloosheidsyfer onder jongmense in Oudtshoorn verwys en gesê die nuwe kampus moet opleiding aanbied op terreine waarin daar 'n behoefte is, nie bloot opleiding ter wille van opleiding nie.
Die HUB van Africa Skills, Elsie Harmse, het gesê die kampus se opleidingsprogramme word ontwerp om seker te maak dat studente opleiding ontvang wat hulle as werknemers in die sakesektor weer in die gemeenskap kan terugploeg en dat sakelui insette moet lewer ten opsigte van die vaardighede waaraan daar tans 'n tekort is.
Oudtshoorn-burgemeester, Jan van der Ross, het klem gelê op die behoefte van die opleiding van vakmanne en veral jongmense aangemoedig om van die nuwe akademie gebruik te maak om hulself met vaardighede toe te rus.
Die Tuinroete-burgemeester, Marais Kruger, het daarop gewys dat opleiding nie bloot moet gaan oor die skep van werksgeleenthede nie, maar eerder oor die skep van vaardighede wat mense toerus om spesifieke ambagte te beoefen.
Dr. Garret Eriksen, Cango Academy se direkteur van akademiese programme en navorsing, het gesê met die totstandkoming van die akademie word 'n sirkel voltooi wat in 1923 begin is toe die katolieke kerk 'n skool en 'n vaardigheidsentrum op dieselfde terrein gestig het.
"Die groot verskil is dat dit vandag nie meer 'n kleigeboutjie met kleivloere is nie, maar 'n opleidingskampus met moderne tegnologie en kundigheid om jong mense voor te berei op die toekoms."
Tydens die openingsgeleentheid het die junior- en seniorkore van Van Reede Skool groot applous en waardering met hul optrede ontlok.
Ongeveer 150 gaste het die amptelike opening bygewoon. 'n Ope dag vir die publiek en belangstellendes word op Saterdag 5 September gehou. Die kampus van Cango Academy is op die hoek van Adderley-, Draai- en Noordstraat geleë. Dit was vroeër jare die tuiste van Principia Kollege.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’