DE RUST NUUS - Die groot malva-plantdag wat as deel van die Mal’va De Rust-projek op Maandag 10 Augustus sou plaasvind moes as gevolg van reën en koue uitgestel word.
Volgens Marita Serfontein van die Mal’va-komitee was die grond Maandag te nat en die weer te guur vir vrywilligers om die bykans 5 000 malvasteggies op verskeie plekke in die dorp te plant.
“Ons het die plantdag tot Saterdag 15 Augustus uitgestel wanneer die grond hopelik effens droër is. Ons nooi almal om te kom deelneem aan hierdie groot projek om die eerste 5 000 plantjies te plant,” het sy Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê.
Mense wat wil deelneem kom om 09:00 op Saterdag 15 Augustus by die NG Kerk in De Rust bymekaar waar die dag se plantprogram bespreek sal word en waarvandaan vrywilligers dan na verskillende areas gaan om hul steggies te plant.
Alhoewel hierdie die eerste plantdag van die projek is, is dit nog nie die amptelike opening en bekendstelling van die driejaar-projek nie. Die amptelike opening vind tydens Erfenisnaweek van 24 tot 27 September plaas wanneer ’n heerlike fees in die dorp beplan word.
Oudtshoorn Courant het reeds verskeie kere berig oor die benarde situasie waarin De Rust se besighede verkeer na die onbepaalde sluiting van Meiringspoort as gevolg van die vloedskade wat in Mei aangerig is.
Die Mal’va De Rust-projek het aanvanklik begin om mense na De Rust te lok, maar het sedertdien uitgebrei na ’n projek wat oor drie jaar strek om De Rust as die land se malva-hoofstad te vestig. Die oorgrote meerderheid van alle malvas wêreldwyd kom van die oorspronklike malvaplantjies en saadjies wat meer as 300 jaar gelede in 1689 deur die Duitse botanis, Hendrik Oldenland, uit die Meiringspoort-gebied versamel is en na Europa geneem is.
Vir meer inligting oor Saterdag se plantdag kontak Marita Serfontein by 084 701 4566
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’