Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die bestuurder, wat 'n geleende motor Vrydagmiddag op sy dak in 'n sloot laat beland het, was skoonveld toe nooddienste en die polisie by die ongelukstoneel opdaag.
'n Datsun 140Y, wat die eienaar skaars 'n maand gelede na restourasiewerk begin gebruik het, het Vrydagmiddag omstreeks 16:00 die grondpad by Bakenskraal verlaat en onderstebo in 'n diep kanaal beland.
Al drie insittendes het die toneel verlaat en een van hulle het meer as 'n kilometer tot by 'n werkershuisie gestap en hulp gevra.
'n Ambulans, wat na die ongelukstoneel onderweg was, is deur die inwoners voorgekeer nadat die 17-jarige met 'n wond aan sy been by hulle opgedaag het. Die bestuurder van die motor, vermoedelik in sy dertigs, en 'n seun van 15 was nêrens te sien nie.
Sowat 'n halfuur nadat nooddienste op die toneel aangekom het, het die eienaar van die Datsun ook opgedaag. Hy het in trane uitgebars toe hy die wrak van die motor waaraan hy maande spandeer het, in die sloot sien lê. Volgens hom het die motor vir meer as tien jaar aan sy pa behoort, maar dit het die afgelope twee jaar nie gery nie. "Ek het hom heeltemal oorgedoen, stukkie vir stukkie soos ek dit kon bekostig en ek het 'n maand terug vir die eerste keer deur die dorp met hom gery," het die ontstelde man op die toneel gesê.
Volgens hom wou 'n familielid die motor die oggend gebruik.
"Hy het my by die werk afgelaai en gesê hy maak net sy draai dan vat hy die kar terug huis toe, maar ure later het my vrou my gebel en gesê die kar is nog nie terug nie." Die man sê hy het uitgevind waar die familielid kuier en 'n geleentheid tot by hom gekry. "Ek het vir hom gesê hy moet my weer by die werk aflaai en dan moet die kar huis toe gaan."
Hy was onder die indruk dat sy motor veilig by die huis is, toe iemand hom later die middag bel en sê die kar was in 'n ongeluk.
Die motor is onherstelbaar beskadig en die man se gesin, wat ook by die toneel opgedaag het, moes gelate kyk hoe die wrak uit die kanaal gesleep word en op 'n insleepvoertuig weggeneem word.
Die beserings van die ander twee insittendes is onbekend, maar volgens nooddienswerkers het een van hulle erg gebloei.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'