OUDTSHOORN NUUS - Die ANC het die afgelope naweek met hul verkiesingsveldtog op Oudtshoorn begin.
Die nasionale adjunkminister van finansies, Mondi Gungubele, het Toekomsrus en Smartietown Sondagoggend besoek.
Die minister en 'n klein gevolg wat kantoorpersoneel en raadslede van Oudtshoorn insluit, het van huis tot huis gegaan en inwoners ontmoet.
In 'n kort gesprek met die Oudtshoorn Courant het Gungubele gesê president Cyril Ramaphosa is besig met 'n skoonmaakproses in ANC geledere om alle Suid-Afrikaners te verenig.
"As jy vir jare in die modder was, is dit 'n lang stryd om uit die modder uit te kom, maar ons is vasbeslote om dit te doen," het hy gesê.
Terwyl sommige inwoners gretig was om die minister te ontmoet, het ander verkies om nie met hom te praat nie.
Minister Mondi Gungubele (middel) en raadslid Sthembile Stone by Jan Petersen tydens Sondag se besoek. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'