Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - 'n Intelligensie-gedrewe operasie gemik op die onwettige dwelmhandel in en om Oudtshoorn het uitstekende resultate toe vier verdagtes gearresteer is tydens 'n spesiale dwelm-operasie op Dinsdag 25 Maart.
Lede verbonde aan die provinsiale georganiseerde misdaad-eenheid gebaseer in George, die Attekwa-K9-honde-eenheid van Oudtshoorn, asook die Oudtshoorn-misdaadvoorkoming-eenheid was betrokke by die arrestasie.
Die span het toegeslaan op persele in Draai, Pearl, Dassie, en Malvastrate in Oudtshoorn waar die verdagtes vir die handel in dwelms gearresteer is. Polisie het 'n onbekende bedrag geld, asook 'n SASSA-kaart in beslag geneem tydens die arrestasie.
Later die dag is toegeslaan op 'n perseel op 'n plaas buite Oudtshoorn waar 'n Gomoto-motorfiets in beslag geneem is aangesien daar vermoed word dit is gebruik tydens die misdaad.
Die arrestasies vorm deel van die voortdurende operasies om dwelmhandel hok te slaan.
Die vier verdagtes van 29, 32, 36 en 49-jaar het Woensdag 26 Maart in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot 4 April vir formele borgaansoeke.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’