Update
VAN WYKSDORP-NUUS - ’n 16-jarige seun het Woensdag 16 Julie in die Ladismith-landdroshof verskyn in verband met die wrede moord op Valerie Enzer (79), wie se liggaam Maandagoggend op die plaas Doringkloof naby Van Wyksdorp gevind is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagte in aanhouding en sal hy op 30 Julie weer in die hof verskyn. Hy staan tereg op aanklag van moord, huisroof, verkragting, diefstal en veediefstal. Meer aanklagte kan moontlik volg namate die ondersoek vorder.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die beskuldigde nie 17 jaar oud is, soos aanvanklik berig nie, maar 16. Hy het sy reg op borgtog van die hand gewys en is tans in aanhouding in ’n fasiliteit vir kinders wat met die gereg bots.
’n Lykskouing is op Dinsdag 15 Julie uitgevoer om die presiese oorsaak van dood te bepaal. Die verslag is nog uitstaande en sal deel vorm van die voortgesette ondersoek.
Die saak is oorgedra aan die Wes-Kaapse eenheid vir ernstige en geweldsmisdade, wat die ondersoek verder sal hanteer.
Enzer, wat van Skotse afkoms is, het die afgelope 18 jaar alleen op die plaas gewoon. Haar liggaam is Maandagoggend kort na 09:00 deur ’n plaaswerker op die stoep van haar huis aangetref. Volgens inwoners van Van Wyksdorp was sy geliefd in die gemeenskap en het haar dood groot skok en hartseer veroorsaak.
“Ons is huiwerig om enige verdere kommentaar oor die meriete van die saak te lewer, aangesien dit in die hof aangehoor sal word,” het Ntabazalila bygevoeg.
Hy het verder gesê dat die beskuldigde géén kriminele rekord het nie, in teenstelling met vroeëre berigte.
Die ondersoek duur voort.
Lees vorige berigte hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’