Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Valke se George-gebaseerde eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad het op 27 April 'n tweede verdagte in verband met 'n beweerde mensehandel-saak in Oudtshoorn in hegtenis geneem.
Die 49-jarige Emaed Ibrahim Hikal is in hegtenis geneem nadat 'n lasbrief vir sy arrestasie met die bystand van lede van die Bredasdorp-polisie uitgevoer is. Hy het op 28 April sy eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof gemaak.
Die arrestasie volg nadat die eerste verdagte, Amado Hikal (27), reeds op 24 Maart in verband met dieselfde saak in hegtenis geneem is.
Volgens luitenant-kolonel Siyabulela Vukubi, woordvoerder van die Valke, het ondersoekbeamptes inligting ontvang oor 'n moontlike slagoffer van mensehandel in Oudtshoorn, waarna 'n deeglike ondersoek van stapel gestuur is.
Die ondersoek het na bewering aan die lig gebring dat die slagoffer, wat werkloos was, deur die verdagtes gelok is om van Egipte na Suid-Afrika te reis nadat werk aan hom belowe is.
Met sy aankoms in die land is sy reisdokumente glo deur die verdagtes gekonfiskeer. Daar word verder beweer dat die slagoffer sonder vergoeding moes werk en ook aangerand is.
Oudtshoorn Courant het reeds vroeër oor die saak berig nadat die eerste verdagte in Maart in hegtenis geneem is.
Die saak teen Amado Hikal is tot 30 April uitgestel vir 'n borgtogaansoek, terwyl die saak teen Emaed Ibrahim Hikal tot dieselfde datum uitgestel is sodat hy regsverteenwoordiging kan bekom.
Die ondersoek duur voort.
Vorige berig
Mensehandel in Oudtshoorn: Verdagte (27) na slagoffer uit Egipte gelok is
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’