Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die Valke se George-gebaseerde eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad het vandag, 24 Maart, ’n 27-jarige verdagte op aanklagte van mensehandel in hegtenis geneem nadat ’n lasbrief vir sy arrestasie uitgevoer is.
Volgens luitenant-kolonel Siyabulela Vukubi, woordvoerder van die Valke, volg die arrestasie op inligting wat ontvang is oor ’n moontlike slagoffer van mensehandel in Oudtshoorn.
“Noukeurige ondersoekwerk deur die Valke het aan die lig gebring dat die slagoffer glo deur die verdagte gelok is om van Egipte na Suid-Afrika te reis. Hy was werkloos. Die verdagte het na bewering aangebied om hom in Suid-Afrika in diens te neem.”
Vukubi sê dat die verdagte met die slagoffer se aankoms in die land sy reisdokumente na bewering gekonfiskeer het. Daar word verder beweer dat die slagoffer sonder vergoeding vir die verdagte moes werk en dat hy aangerand is.
Die verdagte sal môre, 25 Maart, sy eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’