LADISMITH NUUS - 'n Groot groep mense, geklee in wit T-hemde met 'n foto van 'n tref-en-trap ongelukslagoffer daarop, het Maandag 2 September voor die Ladismith-landdroshof byeengekom om die familie van die jong vrou te ondersteun.
Lee-Gail (Gaily) Standaar-Jelander (22) is op 7 Julie wreed van haar lewe ontneem toe sy die slagoffer van 'n tref-en-trap in Hoofstraat, Zoar geword het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het op daardie stadium bevestig dat die jong vrou op 7 Julie deur 'n Isuzu-bakkie in Hoofstraat noodlottig beseer is en dat die bestuurder versuim het om by die ongelukstoneel stil te hou.
Die beskuldigde het vlugtig op 27 Augus-tus in die hof in Ladismith verskyn, waar hy op borgtog vrygelaat is.
Volgens die oorledene se moeder, Abigail Jelander, het hulle 'n beweging, 'The Gaily Foundation' begin wat op Jesaja 26: 21 gegrond is.
"Die hof was Maandag stampvol. Staatsaanklaer Anzelle Laubscher, het 'n aanduiding gegee dat sy 'n aansoek volgens Artikel 21 gaan indien dat die beskuldigde se borgtog teruggetrek moet word.
Die saak, wat voor landdros Ethel Mathyssen dien, is op versoek van die staat tot 12 September uitgestel, omdat die beskuldigde se regsverteenwoordiger, advokaat Benito Mtembo, weens ongesteldheid nie in die hof kon verskyn nie.
Die hof was duidelik in twee faksies verdeel waar die familie en ondersteuners van die oorledene die regterkant van die hofgebou vol gesit het, terwyl familielede en vriende meestal aan die linkerkant van die hofgebou gesit het.
Toe dit op 'n stadium wou voorkom asof die beskuldigde se borgtog opgeskort gaan word, het 'n hoorbare uitbarsting vanaf die linkerkant van die hof gekom. Daar is egter ooreengekom dat die beskuldigde op borgtog sal bly tot sy volgende hofverskyning op 12 September.
Die oorledene se duidelik aangedane moeder, het na die hofsaak haar gevoel soos volg aan Oudtshoorn Courant opgesom: "Hulle, die familie en vriende van die beskuldigde het 'n oorlogsbenadering, ons weet Gaily is dood. Haar dood het 'n groot leemte gelaat, maar ons het volle vertroue in die regstelsel."
Die groep ondersteuners van die oorledene het vir hul T-hemde laat druk uit simpatie met die oorledene. Foto: Deon Meyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’