OUDTSHOORN NUUS - Uitspraak in die saak teen 'n man van Dysselsdorp wat van roof met verswarende omstandighede en twee klagtes van diefstal aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof as gevolg van te min hoftyd tot volgende jaar uitgestel.
Die 27-jarige August Jacobs pleit skuldig op die diefstalklagtes, maar onskuldig op die klagte van roof.
Sy pleitverduideliking ten opsigte van die roofklagte is egter deur die staatsaanklaer, Hyron Goulding, geweier.
Die staat voer aan dat hy op 22 Junie 2023 'n buitelandse winkeleienaar met ‘n Amerikaanse veghond (Pittbull) gedreig en van 2,5kg suiker beroof het.
Jacobs ontken dat hy met 'n hond in die winkel was. Hy erken dat hy die pak suiker gesteel het, maar dit weer later aan die eienaar terugbesorg het.
Hy erken dat hy R500 van Regina Jordaan gesteel het, asook vier blikkies gekondenseerde melk in 'n spazawinkel.
Die saak word deur waarnemende landdros Bulelani Bans aangehoor en is vir uitspraak tot 30 Januarie 2025 uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’