Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 24-jarige Charlton Abrahams van Bongolethu is verlede week in die streekhof aan moord (dolus eventualis) en aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind en tronkstraf van twintig jaar opgelê.
Abrahams het die aand van 21 Julie 2023 vir Vuyo Ndoni (26) in sy nek gesteek en sy meisie, Verenda Williams, met ‘n mes in die arm gesteek. Ndoni is op die toneel dood verklaar.
Hy het onskuldig gepleit op albei aanklagte en gesê dat hy homself verdedig het toe die oorledene hom met ‘n kapmes wou slaan en eenkeer na hom gesteek het met ‘n Okapi-mes wat glo nie heeltemal oop was nie. Hy was nie seker of hy Ndoni raakgesteek het nie. “Ek het net gesteek om los te kom,” het hy gesê en ontken dat hyWilliams gesteek het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het dit aan Abrahams gestel dat hy die enigste een was wat ‘n kapmes gesien het en hy bedoel het om Ndoni dood te steek. Drie van die staatsgetuies het getuig dat die oorledene ongewapen was.
Rudi Cloete het getuig dat Deon Pienaar, ‘n vriend van Abrahams, hom probeer keer het om die oorledene te steek maar dat hy nie wou luister nie. Hy het ook gesien hoedat Abrahams vir Verenda Williams gesteek het.
Plaatjies het dit ook aan Abrahams gestel dat hy sy getuienis aanpas soos die saak aangaan.
Sy lewe was nooit in gevaar nie omdat die oorledene nie ‘n wapen in sy hande gehad het nie en daar genoeg getuienis voor die hof is om hom op albei klagtes skuldig te bevind.
Sy regshulpprokureur, Brain Carelse, het die hof vir sy vryspraak gevra omdat daar te veel weersprekings in die staat se saak is.
Streeklanddross Daniel Boks het egter bevind dat Abrahams nie uit selfverdedigig opgetree het nie en geen buitengewone omstandighede bestaan om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar vir moord met opsetlike doel nie.
Op die klagte van aanranding van Williams het die hof bevind dat daar wel ‘n mate van provokasie was nadat sy die beskuldigde met ‘n klip teen sy kop gekap en hy toe daarop gereageer het. Hy is ook al byna twee jaar in aanhouding.
Hy is tot 15-jaar tronkstraf vir moord en vyf jaar vir ernstige aanranding gevonnis wat samelopend uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van vyftien jaar en ook onbevoeg om ‘n vuurwapen te besit.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’