OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskap is met vele vrae gelaat en in 'n skoktoestand gedompel nadat twee moorde sedert Vrydag 21 Julie die totale moorde in die Klein-Karoo-distrik nou op 14 binne byna sewe maande te staan gebring het.
Moord 1
Die eerste moord het Vrydag in Bongolethu plaasgevind waar, volgens Leon Campher van die organisasie Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), die 23-jarige Vuyolethu Ndoni vermoor is. Ndoni was die pa van 'n 3-jarige kind.
Campher het gesê dat die ma van Ndoni se kind later die dag ook hospitaal toe moes gaan omdat sy volgens Campher deur dieselfde verdagte wat Ndoni doodgesteek het, met 'n mes aangeval is. Inligting rondom die voorval is nog skraps.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n moorddossier gevolglik geopen ná Ndoni se dood by Duduzastraat, Bongolethu op 21 Julie omstreeks 21:15.
"Beskikbare verslae dui daarop dat die polisie op 'n voorval gereageer het en met hul aankoms die lyk van 'n man met 'n steekwond in sy gesig gevind het. Paramedici het die slagoffer op die toneel dood verklaar. Die polisie het later 'n 24-jarige verdagte in verband met dié moord in hegtenis geneem," het Spies gesê.
Volgens Spies sou die verdagte na verwagting reeds Maandag 24 Julie op aanklag van moord in die hof verskyn het.
Moord 2
Die tweede moord van die naweek het na bewering Saterdag 22 Julie in die Kamanassie-omgewing plaasgevind. Volgens Campher is ene Apools Marnewick deur sy eie vrou doodgesteek. "Dit is tragies en hartseer veral wanneer dit familie-verwant is," het Campher gesê.
Navrae oor die moord is aan die polisie gestuur, maar tot op hede is geen terugvoer ontvang nie.
Volgens Campher raak die gemeenskap nou keelvol met die moorde wat in die omgewing plaasvind en moet die gemeenskap begin saamspan om die geweld te bekamp. OCAC skakel gereeld met wetstoepassers, onder meer die polisie, en moedig die breër gemeenskap aan om betrokke te raak, het hy gesê.
Oudtshoorn Courant het gevolglik ook sekere vrae aan die stasiebevelvoerder van Oudtshoorn, brig. Susan Crafford gestel. Die aantal moorde in die Groter Oudtshoorn-omgewing staan nou volgens die koerant se berekening op 14 in byna sewe maande - dit tel nie die tref-en-trap-insidente wat ook plaasgevind het nie.
Navrae wat gestuur is:
- Is die Oudtshoorn-polisie daadwerklik besig om hierdie kwessie (van moorde) aan te spreek en hoe?
- Is daar enigsins 'n aanduiding van hoekom hierdie moorde nou so gereeld plaasvind?
- Is dit moontlik om syfers te vergelyk met dieselfde tydperk verlede jaar - het die moordsyfer erger geraak?
Geen antwoord is teen druktyd op hierdie navrae ontvang nie.
Okkie Terblanche, LP en DA-kiesafdelingshoof
Okkie Terblanche, LP en DA-kiesafdelingshoof van Oudtshoorn, het in 'n persverklaring gesê dat, hoewel die polisiediens 'n staatsentiteit is en dus nie onder die bestek van die Oudtshoorn-munisipaliteit val nie, is die DA in Oudtshoorn nietemin tevrede met die vordering wat die plaaslike polisie, in samewerking met die munisipaliteit, maak rakende die reeks moorde in die dorp.
"Die DA het onlangs uitgereik na die Oudtshoorn-polisie om meer uit te vind oor die stand van sake by hierdie stasie.
Brig. Susan Crafford, die stasiebevelvoerder, het aan die DA verduidelik dat alle moorde tans arrestasies het en dat elke saak op die hofrol verskyn. Crafford verduidelik ook dat daar weeklikse imbizo's gehou word en dat buurtwagte en gemeenskapsforums, soos ondersteun word deur die Oudtshoorn-munisipaliteit, bydra tot die bekamping van misdaad in die area," het Terblanche gesê.
Luidens sy verklaring bedank die DA die Oudtshoorn-polisie, asook die burgemeester van Oudtshoorn en betrokke amptenare, vir die harde werk wat hulle doen om inwoners veilig te hou.
"Ongelukkig is daar steeds baie uitdagings. Dwelm- en drankmisbruik, asook geslagsgebaseerde geweld bly 'n ernstige kommer en die DA doen 'n beroep op die nasionale regering om die nodige hulpbronne aan die munisipaliteit en die plaaslike polisie te verskaf," het hy bygevoeg.
Vuyolethu Ndoni (23)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’