OUDTSHOORN NUUS - Twee jong burgers van Lesotho is Maandag 21 Julie in die Oudtshoorn-streekhof aan roof met verswarende omstandighede en onwettige immigrasie skuldig bevind, en elk tot 11 jaar tronkstraf gevonnis.
Atsela Molapo (21) en Pheello Selelekela (20) het op 6 Julie 2024 ’n Ethiopiër en sy gesin in hul huis in Badstraat, Oudtshoorn, met ’n vuurwapen gedreig, vasgebind en van ’n Toyota Hilux, twee selfone, ’n skootrekenaar en R70 000 kontant beroof.
Hulle is egter naby Willowmore in hegtenis geneem nadat die bakkie sonder brandstof gaan staan het.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof vir swaar vonnisse gevra omdat dié soort misdaad aan die orde van die dag is en ’n duidelike boodskap uitgestuur moet word vir voornemende rowers.
“Mense word van hul besittings, waarvoor hulle hard gewerk het, beroof en die gemeenskap is siek en sat daarvoor,” het Saaiman gesê.
Hy het egter toegegee dat die hof kan afwyk van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar omdat die beskuldigdes skuldig gepleit het, die klaer nie beserings opgedoen het nie, en al die items teruggevind is.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dit is skokkend dat jong buitelanders onwettig na Suid-Afrika kom en dan misdaad pleeg.
Die twee beskuldigdes is elk tot tien jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede gevonnis en een jaar vir onwettige immigrasie. Die vonnisse kan samelopend uitgedien word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’