DYSSELSDORP NUUS - Elf persone is Dinsdag 14 April in Dysselsdorp op dwelmverwante aanklagte in hegtenis geneem tydens ’n doelgerigte polisie-operasie.
Hierdie arrestasies volg slegs vier dae na twee persone in De Rust ook vir dwelmverwante klagtes in hegtenis geneem is.
Volgens adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, vorm die optrede deel van die polisie se voortgesette pogings om dwelmhandel in die gebied hok te slaan.
“Lede van die Dysselsdorp-misdaadvoorkomingseenheid het vyf persele deursoek nadat inligting ontvang is oor beweerde onwettige aktiwiteite by wonings in Donkerhoek, Bernadus-gronde en Paradise View,” het Spies gesê.
Die operasie het gelei tot die konfiskering van 133 Mandrax-tablette, 250 gram tik, 11 sakkies tik, asook kleiner hoeveelhede Mandrax. Die dwelms het ’n beraamde straatwaarde van ongeveer R90 000.
Die verdagtes, tussen 21 en 56 jaar oud, is in hegtenis geneem op aanklagte van besit en handel in dwelms. Hulle bly in aanhouding en sal in die hof verskyn sodra hulle formeel aangekla is.
Vorige berig:
De Rust drug bust: Police confiscate 950 mandrax tablets, two behind bars
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’