OUDTSHOORN NUUS - Inwoners in Rosevalley het Saterdag 22 Augustus ’n polisievoertuig tydens ’n klopjag in die gebied beskadig. ’n Vroulike polisielid het ook ernstige beserings opgedoen.
Volgens luitenant-kolonel Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, was lede verbonde aan Oudtshoorn-polisie op die toneel van ’n onwettige drankafsetpunt toe die voorval gebeur het.
“Lede was omstreeks 17:15 in die gebied toe hulle deur lede van die publiek aangeval is. Voorlopige inligting dui daarop dat ’n vroulike polisielid deur ’n vroulike lid van die publiek tydens die klopjag aangerand is. Sy het ’n ernstige besering aan haar arm opgedoen en is gestuur vir behandeling en X-strale om die ernstigheid van die besering te bepaal.”
Volgens Pojie het lede van die publiek die polisie met klippe bestook wat hulle verhoed het om hul taak uit te voer. “Die voorval word in ’n ernstige lig gesien en veroorsaak hierdie tipe optredes dat behoorlike dienslewering aan die gemeenskap verhoed word, asook onnodige skade aan polisievoertuie wat verdere dienslewering inkort.
Twee volwasse vroue is in hegtenis geneem en staar klagtes, wat verband hou met ’n aanval op die polisie, weerstand teen inhegtenisneming, crimen injuria en aanranding, in die gesig. Hulle sal in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is.
Voertuie word beskadig
Volgens die polisie is dit die derde polisievoertuig wat binne twee maande beskadig is, asook die tweede polisielid wat gedurende dieselfde tydperk beseer is.
Wanneer polisievoertuie beskadig word en buite werking gestel word, beteken dit dat daar minder voertuie en hulpbronne vir misdaadbekamping, noodreaksie en die beskerming van die gemeenskap beskikbaar is.
Dieselfde geld wanneer polisielede tydens hul pligte beseer word. Elke beseerde lid beteken ’n verlies aan kapasiteit vir die polisie, terwyl lede juis daagliks hul veiligheid op die spel plaas om die gemeenskap te dien en te beskerm.
Effektiewe dienslewering, vinnige reaksietyd en sigbare polisiëring kan slegs gehandhaaf word indien die tipe voorvalle bekamp word. Die polisie kan nie alleen verantwoordelik gehou word vir gemeenskapsveiligheid indien lede verhinder word om hul pligte uit te voer en noodsaaklike hulpbronne beskadig word nie.
Daar word ’n beroep op gemeenskapslede gedoen om saam met die polisie, gemeenskapspolisiëringsforums en ander gemeenskapsveiligheidstrukture te werk om veiligheid in plaaslike gemeenskappe te bevorder.
Lede van die gemeenskap kan nie dienslewering ondermyn en dan daarna kla oor ’n gebrek aan dienslewering nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’