OUDTSHOORN NUUS - ’n Reeks misdaadbekampingsoperasies aan die Tuinroete het die afgelope naweek gelei tot die konfiskering van altesaam 484 liter ongelisensieerde drank in Oudtshoorn en George.
Die eerste suksesvolle operasie is op Vrydag 11 April in Bongolethu, Oudtshoorn uitgevoer. Lede van die plaaslike polisiediens het, na aanleiding van inligting uit die gemeenskap, ’n streekoperasie van stapel gestuur.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die beamptes met ’n deursoekingslasbrief beslag gelê op 72,2 liter drank, wat vermoedelik vir onwettige verkoop gehou is. ’n 42-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige verkoop van alkohol.
Op Saterdag 12 April het lede van George se misdaadvoorkomingseenheid op ’n soortgelyke wyse toegeslaan op ’n perseel in Blanco, George. Daar is 411 liter drank gekonfiskeer en twee mans van onderskeidelik 41 en 22 jaar oud is in hegtenis geneem.
Die drie verdagtes bly in polisie-aanhouding en sal na verwagting vandag, 14 April in hul onderskeie howe verskyn.
Spies sê hierdie beslagleggings vorm deel van die Wes-Kaapse polisie se voortgesette poging om sogenaamde sjebiens (ongelisensieerde drankverkooppunte) uit te wis. Volgens die polisie is alkoholmisbruik steeds een van die grootste bydraende faktore tot gewelddadige misdade, veral oor naweke.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’