OUDTSHOORN NUUS - ’n 24-jarige Oudtshoorn-man John-Raldo Piedt, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot 18 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en ernstige aanranding.
Streeklanddros Ntsoki Moni het tydens vonnisoplegging gesê Piedt is aan ernstige misdrywe skuldig bevind waarvoor die gemeenskap “siek en sat” is.
Piedt het aanvanklik onskuldig gepleit, maar later sy pleit verander en skuld erken.
Hy het erken dat hy in die vroeë oggendure van 20 Mei 2023 vir die ’n 27-jarige in 15de Laan, Bongolethu, met ’n panga gedreig en haar selfoon gesteel het.
Sy het aan die hof gesê sy en haar ekskêrel was tydens beurtkrag onderweg werk toe toe Piedt en nog ’n man hulle agtervolg het. Volgens haar kon sy Piedt aan die lig van haar selfoon uitken.
Op 27 November 2023 het Piedt volgens die getuienis vir ’n 44-jarige man op die Rooiheuwel-pad met ’n stuk sparhout oor die kop geslaan en hom van R30 kontant en ’n horlosie ter waarde van R140 beroof. Sy vriendin is ook aangerand.
Die hof het die twee roofklagtes vir vonnis saamgeneem en Piedt tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis, nadat die landdros van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar afgewyk het.
Vir die aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer is hy tot ’n verdere drie jaar gevonnis, wat samelopend met die 18 jaar vonnis uitgedien sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’