OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) soek die hulp van die publiek om vier mans op te spoor wat gesoek word in verband met 'n saak van verkragting en roof wat by Oudtshoorn aangemeld is.
Ondersoek na hierdie saak toon aan dat die slagoffer, 'n 32-jarige man, op 5 September omstreeks 15:45 op pad was na sy woning toe 'n man hom by die brug naby Rosebank, Bongulethu in Oudtshoorn genader het. Die man het die slagoffer na die brug gesleep en hom geskend. Drie ander mans het bygekom en die slagoffer van sy persoonlike besittings beroof.
'n Soektog na die viertal is aan die gang en lede van die publiek word versoek om na vore te kom met enige inligting wat die polisie kan help om die oortreders op te spoor.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Corné Thysse by 044 203 7513 te kontak.
George FCS benodig publiek se hulp
In 'n onverwante aangeleentheid vra George FCS die publiek se bystand om na vore te kom met enige inligting wat die polisie kan help om 'n man op te spoor wat 'n 20-jarige vrou geskend het.
Daar word beweer dat die vrou op Saterdag, 07 September 2024 omstreeks 22:00 haar vriend huis toe vergesel het. Met haar terugkeer is sy naby Hoërskool Jonga, Sone 6, Thembalethu in George deur 'n man aangerand. Die man, wat beskryf word as 'n lang man wat Zoeloe praat, het haar langs die grondpad in die bosse ingedwing waar hy die vrou aangerand het voordat hy haar geskend het.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, sers Delores Damons 044 8034621 of Crime Stop by 08600 10111 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’