LADISMITH NUUS - Inwoners van Ladismith was verlede Woensdag verbysterd oor verskeie polisievoertuie wat teen 'n hoë spoed in die sakekern van die dorp gejaag het.
Dié konsternasie het ontstaan na twee mans na bewering uit polisie-aanhouding uit die Ladismith-landdroshof ontsnap het en die hasepad gekies het.
Die twee verdagtes, onderskeidelik 19 en 21 jaar oud, het tereg gestaan op aanklagte van huisbraak en die besit van gesteelde eiendom, maar het daarin geslaag om uit die “arms van die gereg” te ontsnap.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagtes binne ‘n uur ná hul ontsnapping weer aangekeer. Hulle het Vrydag 10 Januarie in die plaaslike landdroshof verskyn. Boonop is ‘n aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding nou tot die klagstaat gevoeg.
Spies het bevestig dat die Ladismith-polisie ook ‘n interne ondersoek van stapel stuur ingevolge die dissiplinêre regulasies van die polisie. Hierdie ondersoek sal parallel met die kriminele ondersoek voortgaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’