OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van Guwani Williams (27), wat op ’n aanklag van moord teregstaan ná die dood van die 20-jarige Sheldon Fortuin in 2023, het verlede week uiteindelik in die Oudtshoorn-streekhof begin en word vandag, 9 Julie, met verdere getuienis voortgesit.
Fortuin is na bewering in die vroeë oggendure van 29 Oktober 2023 in Hoogstraat, oorkant die Fantasy-nagklub, deur Williams aangerand.
Hy is na die hospitaal geneem waar hy op 12 November 2023 aan sy beserings beswyk het.
Verdediging
Williams het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy uit selfverdediging opgetree het toe Fortuin hom van sy selfoon en nekhangertjie beroof het.
Williams se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het aan die hof verduidelik dat sy kliënt glo die betrokke oggend deur Fortuin en nog ’n persoon beroof is.
Volgens hom was Fortuin na bewering met ’n skêr gewapen, wat Williams genoop het om homself te verdedig.
Swanepoel het aangevoer dat Williams nooit die bedoeling gehad het om Fortuin dood te maak nie en ook nie kon voorsien dat sy optrede noodlottige gevolge sou hê nie.

Staatsgetuie
Die eerste staatsgetuie, Donovan Alexander, ’n sekuriteitsbeampte by Club Fantasy, het getuig dat hy omstreeks 01:30 ondersoek gaan instel het toe hy mense buite die nagklub hoor skree het. Volgens Alexander het hy gesien hoe Williams vir Fortuin, wat reeds op die grond gelê het, skop. Hy het oor die pad gehardloop om tussenbeide te tree.
Alexander het getuig dat hy nie gesien het dat Fortuin ’n skêr by hom gehad het nie en ook nie waargeneem het dat iemand anders hom aangerand het nie.
Hy het Williams terug in ’n voertuig gedwing en opgemerk dat bloed uit Fortuin se neus en ore geloop het.
Lede van ’n sekuriteitsmaatskappy wat kort daarna opgedaag het, het ’n ambulans ontbied wat Fortuin na die hospitaal vervoer het.
Videomateriaal
Tydens kruisondervraging het Swanepoel aangevoer dat Alexander se getuienis nie ooreenstem met videomateriaal wat van ’n nabygeleë winkel verkry is nie.
Hy het gesê die beeldmateriaal wys dat Fortuin ook deur ’n vrou aangerand is, en daarom het hy Alexander se geloofwaardigheid as getuie bevraagteken.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni. Mervan Saaiman tree namens die staat op.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’