OUDTSHOORN NUUS - Sheldon Fortuin, 'n gr. 11-leerder van Hoërskool Môrester, is twee weke gelede, op 29 Oktober in Hoogstraat aangerand.
Hy is die afgelope naweek, 12 November, in George-hospitaal oorlede.
Volgens sy ma, Charmaine Fortuin, het hy die aand gaan kuier, maar het hy nie weer huis toe gekom nie.
"Ons het die polisiestasie gebel, maar niemand het van hom geweet nie. Ons het ook met die hospitaal gesels. Eventueel het iemand onthou dat 'n erg aangerande, anonieme persoon daardie aand by die hospitaal opgeneem is. Niemand het geweet wie hy is nie, omdat hy reeds in 'n koma was."
Volgens haar het hy net eenkeer sy bewussyn herwin, en kon hy sy ma herken.
"Daar was net niks in sy oë nie. Die trane het geloop en hy het my hand gedruk, maar dit was dit. Die dokters het gesê dat hy ernstig seergekry het."
Sheldon was ook die pa van 'n jaar en sewe maande oue baba.
"Dit is nou nog 'n kind wat sonder sy pa moet groot word," het Fortuin gesê.
Mathew Fortuin, Sheldon se pa, het die week gesê dat hulle hom waarskynlik eers volgende week gaan begrawe.
"Die nadoodse ondersoek moet nog gedoen word om te bepaal waaraan hy dood is. Sodra dit voltooi is, sal ons hom begrawe."
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word die omstandighede rondom die dood van Fortuin ondersoek.
"'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die slagoffer op 29 Oktober omstreeks 04:20 met ernstige kopbeserings voor 'n winkel naby Hoogstraat gevind is."
Hy sê die Oudtshoorn-polisie het 'n moorddossier vir verdere polisieondersoek geopen. Die ondersoek na hierdie saak is in 'n vroeë stadium. Die verdagte(s) moet nog gearresteer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’