OUDTSHOORN NUUS - Mark Ewerts (24) is Dinsdag 8 Julie in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van 12 jaar opgelê nadat hy aan moord met direkte opset skuldig bevind is.
Ewerts het die aand van 3 Oktober 2021 vir Chad Pass by ’n kuierplek in Asterhof, Bridgton, verskeie kere met ’n mes gesteek.
Sy weergawe dat die oorledene hom wou steek en hy die mes in ’n worsteling in die hande gekry en hom een keer in sy arm gesteek het, is deur die hof as vals verwerp.
Die oorledene het die betrokke aand glo in sy oor gefluister dat hy hom later die aand sou doodmaak.
Mary Meyer, wat die betrokke aand by die kuierplek aan diens was, het getuig dat sy gesien het hoedat Ewerts oor die oorledene buk en hom verskeie kere gesteek het terwyl hy op die grond gelê het.
Sy kon nie sien waarmee Ewerts steek nie omdat hy met sy rug na haar gekeer was.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof versoek om nie van die minimum vonnis van vyftien jaar af te wyk vir ’n sinnelose moord nie. Daar was vyf steekwonde aan die liggaam van die oorledene en nie net een nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê Ewerts het ’n hulpelose man vermoor, en geen berou getoon nie. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’