OUDTSHOORN NUUS - 'n Dysselsdorper is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van 32 opgelê.
Theodine Hendricks (28) van Dysselsdorp is skuldig bevind op aanklagte van verkragting, menseroof en twee van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Hendricks het op 12 November 2022 'n 19-jarige meisie in sy ghetto met ‘n kapmes geslaan en gewurg totdat sy flou geval het. Daarna het hy haar ontklee en verkrag. Hy het haar toe tot dagbreek die volgende dag in ‘n hoekie laat sit en toegesluit totdat hy van die werk af teruggekom het.
Hy het haar 'n week vroeër, op 29 Oktober 2022, met ’n staalpyp geslaan en haar arm op meer as een plek gebreek.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê die ernstigheid, manier waarop hy haar aangerand en verkrag het, en die wapens wat Hendricks gebruik het, maak dit onmoontlik om van die minimum vonnis af te wyk.
“Daar gaan nie ‘n dag verby dat ‘n vrou nie verkrag word nie, en dit het ‘n pandemie geword en baie vroue leef daagliks in vrees. Vroue in die land het die reg om te loop en te gaan waar hulle wil en hulle te geniet soos wat hulle wil. Die beskuldigde toon geen berou vir die gruwelike dade wat hy gepleeg het nie en dit is absoluut onaanvaarbaar,” het die landdros gesê.
Hendricks is 15 jaar vir verkragting, sewe jaar vir aanranding en menseroof en tien jaar vir die aanranding met die staalpyp opgelê.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’