Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee minderjariges, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is in hegtenis geneem in verband met die moord op die 27-jarige Keanan Damons van Oudtshoorn.
Damons is op Dinsdagaand, 9 Junie, dood nadat hy na bewering met ’n mes in die lies gesteek is. Daar word ook beweer dat hy vir slegs R2 vermoor is.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Chris Spies, het die arrestasies bevestig.
“Die verdagtes het Vrydag 12 Junie in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort,” het Spies gesê.
Sedert die voorval het inwoners op sosiale media hul kommer uitgespreek oor die toenemende aantal sinnelose moorde in Oudtshoorn, asook die betrokkenheid van minderjariges by gewelddadige misdaad.
Daar is ook bewerings dat die moord moontlik verband hou met die beweerde bendeverwante onluste wat verlede week plaasgevind het, maar dié inligting kon nie onafhanklik bevestig word nie.
Onluste
Die afgelope week het heelwat inwoners van Rosebank, Rose Valley, Askamp en GG-Kamp op WhatsApp laat blyk dat hulle vrees vir hul lewens. Dit spruit uit ’n voorval Woensdagaand, 10 Junie, toe die bekende kinderbendes, Bornas en Last Kings, glo amok in die woonbuurte gesaai het.
Volgens inligting word groot groepe kinders gebruik, soms tot meer as 30 op ’n slag, om inwoners te roof, treiter en met wapens te dreig. Skoolkinders word ook glo by skole gedreig.
By navraag hieroor het Spies genoem dat die omstandighede rondom die onluste ondersoek word. “Volgens verslae is polisievoertuie met klippe gegooi waarna die polisie rubberkoeëls gebruik het om die situasie te ontlont. Pops-lede is ook na die gebied ontplooi. Twee polisievoertuie is tydens die voorval beskadig.”
Spies het bevestig dat ’n saak van openbare geweld geopen is. “Alle leidrade word opgevolg met die doel om die oortreders in hegtenis te neem.”
Gemeenskapsvergadering
’n Gemeenskapsvergadering is Donderdagaand, 11 Junie, in Bongolethu gehou wat deur Phillip Seroux saamgeroep is. Ongeveer 45 inwoners het die vergadering bygewoon.
Om veiligheid te verseker was drie Casspir-voertuie van die onluste-eenheid in George, asook drie plaaslike vangwaens teenwoordig. Volgens inligting is die leiers van die Bornas en Last Kings redelik bekend in die gemeenskap.
Inwoners het tydens die vergadering aangedui dat hul hoofdoel is om kinders uit die bendes te kry.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’