OUDTSHOORN NUUS - Nog ’n beweerde messteekvoorval het Dinsdagaand, 9 Junie, die lewe van Keanan Damons (27) in Oudtshoorn geëis. Dit is die tiende moord in Oudtshoorn hierdie jaar.
Volgens beskikbare inligting het die voorval omstreeks 18:15 in Mercuriusstraat in Toekomsrus plaasgevind.
Inwoners beweer dat die oorledene en ’n vriendin glo van ’n groep kinders, wat hulle geroof het, probeer wegvlug het. Damons is na bewering tydens die voorval in die lies gesteek.
AO. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Oudtshoorn-polisie ’n saak van moord ondersoek nadat ’n 27-jarige man met ’n noodlottige steekwond in sy lies in die straat aangetref is.
“Paramedici het die man op die toneel dood verklaar,” het Spies gesê.
Volgens Spies is die verdagtes steeds op vrye voet en word daar aktief na hulle gesoek.
Enige persoon met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om die Oudtshoorn-polisie te kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’