Update
OUDTSHOORN NUUS - Die onsinnige moord op Marelize 'Barbie' Jumas (28) van Blomnek het haar familie én die gemeenskap geruk. Jumas is na bewering deur haar aan-en-af-kêrel, Jonathan van Schalkwyk, verskeie kere in haar rug en kop met 'n mes gesteek.
Van Schalkwyk het Woensdag 6 Junie in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn, maar het nie om borgtog aansoek gedoen nie.
Die saak is uitgestel tot 11 Julie. Die familie van wyle Jumas en die gemeenskap het Woensdagoggend 'n petisie by die hof ingedien om te vra dat indien Van Schalkwyk vir borg sou aansoek doen, dit teengestaan moet word, aangesien die gemeenskap die reg in eie hande sal neem.
Die voorval het Woensdag 4 Junie ongeveer 13:00 naby die sportterrein in Blomnek buite De Rust gebeur. Hy het Vrydag 6 Junie in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en die saak is tot Woensdag 11 Junie vir 'n borgtogaansoek uitgestel.
Die twee het volgens inligting saam gestap waarna daar glo 'n onderonsie ontstaan het en hy haar voor getuies aangeval het. 'n Jong man het haar te hulp gesnel, maar Van Schalkwyk wou hom glo ook steek.
Jumas het inmekaargesak en is later deur paramedici dood verklaar.
Die verdagte het die pad gevat en 'n soektog is deur plaaslike polisie, lede van die misdaadsvoorkomingseenheid, asook die Attaqua K9-eenheid van stapel gestuur. Hy is opgemerk De Rust toe en is in hegtenis geneem. 'n Mes, wat waarskynlik die moordwapen was, is in sy besit gevind.
In gesprek met die Jumas-familie vertel haar ma, Ragel, dat hulle hoeveel keer vir Marelize gewaarsku het om uit die verhouding te kom.
"Ek was besig met 'n beskermingsbevel en sy was Maandag onderweg na Famsa in Mosselbaai vir berading." Volgens inligting het Van Schalkwyk haar langs die pad gekry en saam gestap. Haar broer Kevin beaam wat sy ma vertel.
"Ek het baie met my suster gepraat, maar sy wou nie luister nie. Niemand wou luister en help nie en nou sit ons met 'n vyfjarige dogtertjie sonder 'n ma."
Volgens Kevin kan hy nie die verdagte oordeel nie en vergewe hy hom. "Dit is vir God om te oordeel."
Hoewel die gesin gebroke is, is hulle sterk en sal Jasmine, Jumas se dogertjie, nou onder hul vlerk grootword. Ragel sê dit breek haar hart want Jasmine bly vra, "Wanneer kom mamma huis toe?"
Volgens die familie het die verdagte 'n dreigement teenoor die kind gemaak dat haar ma net eendag nie huis toe gaan kom nie. Die familie is van mening dat die daad beplan is.
Volgens Marelize se jonger suster, Debbie, het hy altyd vir Marelize gesoek, gepla en agtervolg, selfs vir hulle ook. Daar is ook bewerings dat hy vorige oortredings van aanranding teen hom het.
Haar ma vertel dat dit vir haar die ergste was om haar dogter te gaan uitken. "My kind het 'n lelike dood gesterf."
Die begrafnis vind Saterdag 14 Junie om 09:00 by die familie se huis in 920 Dwarsweg in Blomnek plaas en die diens om 10:00 by die AGS gemeente in De Rust.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’