PRINS ALBERT-NUUS - Die polisie in die Sentraal-Karoo-distrik het die onwettige dwelmhandel 'n swaar slag toegedien met die konfiskering van dwelms met 'n beraamde waarde van R660 000.
'n 28-jarige verdagte, 'n Zimbabwiese burger, is op die N1 naby Prins Albert in hegtenis geneem.
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes verbonde aan die blitspatrollie voertuigkontrolepunte langs die snelweg uitgevoer toe hulle 'n passasiersbus, wat na Kaapstad onderweg was, afgetrek het. Die bus is deursoek en ’n karton met twee sakke is gevind.
Spies sê by verdere inspeksie van die sakke het die lede 7 000 Mandrax-tablette en 2 083 Ecstasy-tablette met 'n geraamde waarde van R660 000 gevind.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die lede geloof vir hul waaksaamheid wat verseker het dat dwelms uit die strate verwyder word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’