OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen drie jong verdagtes van Bongolethu, wat van die moord op nog ‘n jong man aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof tot 4 Maart vir pleit en verhoor uitgestel.
Mlungisi Stwayi (18), is na bewering op Saterdag 20 April 2024 naby die Black Joint informele woonbuurt deur ’n groep mans met klippe gegooi en met ’n mes gesteek.
Hy het die volgende dag in die Oudtshoorn-hospitaal aan sy beserings beswyk.
Mlungisi se ma, Noxolo Stwayi, het aan Oudtshoorn Courant vertel Mlungisi was haar en sy pa, Wanda Gqeba, se oudste kind. Volgens Noxolo het haar seun by die huis aangekom met bloederige wonde aan sy gesig, blykbaar van die klippe wat hom getref het. Sy familie het 'n ambulans ontbied, maar paramedici het net verbande opgesit en weer gery. Later die nag het sy toestand versleg. Hy is na die hospitaal geneem waar hy breindood verklaar is.
Speurders van Oudtshoorn het twee van die verdagtes, Lushandre Lewies en Chrissadon Frans, albei agtien, in Augustus 2024 in hegtenis geneem en later ook die 19-jarige Andrew Tarentaal.
Die saak is verlede Vrydag deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 4 Maart uitgestel. Die drie verdagtes bly in aanhouding.
Lees die vorige berig hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’