OUDTSHOORN NUUS - 'n Ouerpaar van Bongolethu, Oudtshoorn, is in rou gedompel na hul 18-jarige seun, Mlungisi Stwayi, Saterdagaand glo met klippe naby Black Joint dood gegooi is.
Volgens 'n omstander wat die voorval sien gebeur het, het hy en 'n paar vriende naby die duik by Black Joint gestaan toe hulle 'n geraas hoor.
"'n Klomp jong mense of kinders het die seun aanhou gooi met klippe en ons het probeer keer. Ons kon sien tussen die stof en klippe dat hy alreeds baie seer gekry het. Meeste van die kinders is nog op skool."
Volgens hom het Mlungisi kans gekry om te vlug en is hy huis toe. Hulle het glo die volgende dag die tyding gekry dat die seun oorlede is.
"Ons is nie seker waaroor die bakleiery gegaan het nie. Party mense sê hy het kwaad geraak en iemand met 'n klip raak gegooi en toe gooi hulle hom terug, maar niemand weet regtig nie."
Die area naby die skeepsvrag is waar die voorval plaasgevind het. Foto: Liezl van Niekerk
Volgens Mlungisi se ma Noxolo Stwayi, is dit vir haar en sy pa Wanda Gqeba, 'n geweldige skok. Hy was die oudste van drie kinders.
Noxolo vertel dat haar seun 'n leerder van Fezekile Sekondêr was, maar dat hy die skool die jaar verlaat het.
"Hy was 'n goeie kind. Hy het altyd na my geluister. Dit was nie nodig om hom so bitterlik seer te maak nie."
Noxolo sê toe Mlungisi Saterdagaand voor 21:00 by die huis kom was sy hele gesig toe onder die bloed.
Mlungisi Stwayi
"Jy kon sien dat hy lelike houe in sy gesig het soos die klippe hom getref het. Ons het die ambulans gebel en die paramedici het gesê dat hy net verbande nodig het en hulle het weer gery. Ons het 'n rukkie later gaan slaap. Ek het later wakker geword van 'n geluid wat ek uit sy kamer gehoor het. Soos 'n snork, maar nie soos hy gewoontlik klink nie. Toe ek in sy kamer kom het hy op die bed gelê en ruk. Ons het weer die ambulans gebel. By die hospitaal het hulle gesê dat hy breindood is."
Die ouers sê dat hulle wag vir die lykskouing voordat hulle sy begrafnis kan beplan.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sê dat omstandighede rondom die dood van 'n 18-jarige ondersoek word.
"Die polisie is na die hospitaal ontbied waar 'n jong man met wonde aan sy kop aangetref is. Die man is egter by die hospitaal dood verklaar. Hy het wonde aan sy kop gehad en die lede het 'n moorddossier geopen."
Volgens Spies doen die Oudtshoorn-speurders 'n beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat die polisie met die ondersoek kan help.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, ao. Wilfred Apollis, by 044 203 9200 of 079 894 1897 kontak.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’