OUDTSHOORN NUUS - Cathleen Hendricks (45) het verlede Vrydag, 29 Mei, skuldig gepleit op aanklag van geldwassery wat verband hou met ’n dwelmondersoek wat reeds in 2018 in Oudtshoorn begin het.
Volgens die Valke se woordvoerder, Zinzi Hani, het die saak sy oorsprong in ’n ondersoek na dwelmsmokkelary en geldwassery wat gevolg het op ’n beslaglegging van dwelms by ’n taxi wat in April 2018 in Oudtshoorn aangekom het.
Hani het gesê ’n intelligensie gedrewe operasie, bestaande uit lede van die Valke se ernstige georganiseerde misdaadondersoekspan in George en die K9-hone-eenheid in Oudtshoorn, het op 6 April 2018 opgetree nadat inligting oor beweerde dwelmhandel ontvang is.
Volgens die inligting het ’n vermeende dwelmhandelaar R60 000 via ’n taxibestuurder na Gqeberha gestuur om dwelms aan te koop.
Met die taxi se terugkeer na Oudtshoorn het polisielede die voertuig gestop en deursoek. Tydens die deursoeking is R57 490 kontant, wat glo aan die dwelmhandelaar behoort het, asook 200 Mandrax-tablette gevind.
Die taxibestuurder is in hegtenis geneem en die dwelms en geld is gekonfiskeer.
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die dwelmhandelaar Hendricks opdrag gegee het om na die polisiestasie te gaan en ’n beëdigde verklaring af te lê waarin sy beweer het dat die R57 490 aan haar behoort. Die geld is egter nooit aan haar terugbesorg nie. Die dwelmhandelaar is in 2022 oorlede.
Bewyse is later aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voorgelê waaruit geblyk het dat die inhoud van Hendricks se beëdigde verklaring vals was.
Die hof het gevolglik op 23 Oktober 2025 ’n J175-dagvaarding uitgereik, waarna Hendricks beveel is om in die hof te verskyn.
Op 14 November 2025 het die hooggeregshof ’n verbeurdverklaringsbevel ten opsigte van die R57 490 toegestaan.
Die saak is tot 14 Julie vir vonnisoplegging uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’