OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is Dinsdag 21 April in die Oudtshoorn-landdroshof aan Gershwin Afrika (35) geweier. Hy word daarvan aangekla dat hy op 3 April sy vyf maande swanger meisie, Rozanne 'Sponsie' Botha (31) doodgesteek het.
Botha, is volgens die ondersoekbeampte, ao. Morné Janse van Rensburg, in haar ouerhuis in haar bobeen gesteek en op die toneel oorlede.
Van Rensburg het borgtog teengestaan omdat hy al by vorige geleenthede borgtogvoorwaardes verontagsaam het én hangende sake teen hom het. Hy verbreek ook beskermingsbevele van die hof. Afrika het volgens Van Rensburg met die moordwapen in sy hand weggehardloop, maar is kort daarna deur die polisie in hegtenis geneem.
Botha se ma het haar bloeiende dogter in die slaapkamer aangetref.
Die staatsaanklaer, Leandrie Visagie, het ook borgtog teengestaan. Volgens haar het Afrika ook verkeerde adresse aan die polisie gegee en sal volgens haar by verdere misdaad betrokke raak indien hy vrygelaat word.
Landdros Zuastred Deyce het aan Afrika gesê dat hy teregstaan op 'n skedule 6- misdryf, en nie bewys het dat dit in belang van geregtigheid is om borgtog te kry nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 19 Mei uitgestel.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’