Update
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn is diep geskok ná twee sinnelose moorde in Rosebank dié Paasnaweek.
Die eerste voorval het Vrydagaand, 3 April, plaasgevind, toe die vyf maande swanger Rozanne Botha (31) doodgesteek is.
Rian Gelant (19) is die volgende dag na 'n beweerde onderonsie doodgesteek.
Beide verdagtes is kort na die moorde in hegtenis geneem.
Rozanne Botha
Die besonderhede rondom die moord op Rozanne Botha is steeds vaag, maar daar word beweer dat sy met 'n mes in haar bobeen gesteek is en aan haar beserings beswyk het.
Sers. Wesley Twigg, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het aan die media gesê: "Oudtshoorn-polisie het 'n moordsaak geopen nadat 'n vrou met 'n mes in haar bobeen gesteek is en aan die wond beswyk het. Die motief is nog nie bekend nie, maar daar word vermoed dat dit verband hou met gesinsgeweld."
Gurswin Afrika is gearresteer en het Dinsdag 7 April in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Die saak is tot Donderdag
9 April vir 'n aansoek om regshulp uitgestel. Oudtshoorn Community Against Crime (Ocac) beplan 'n kranslegging op 9 April by die plek waar die voorval plaasgevind het.
Rian Gelant
Rian Gelant van Rosebank word deur sy familie beskryf as geliefd, vriendelik, behulpsaam en 'n sagte jong man. Hy het Saterdagaand, 4 April, beswyk aan 'n meswond in sy bors nadat 'n 36-jarige vrou hom na 'n woordewisseling gesteek het.
Sy familie is gebroke en kan nog nie berusting vind nie.
Die voorval het ten aanskoue van Gelant se vriende en familie plaasgevind.
"Ek het dit sien gebeur, sy laaste woorde aan my was: 'kyk waar het die vrou my gesteek'. Ek het nog vir hom gesê om die wond toe te hou toe ek die ambulans bel," vertel Francois Boesak, 'n vriend van Gelant.
"Rian was 'n goeie kind met goeie maniere en altyd bereid om te help," onthou sy tannie, Liesl Kasayn.
Hy is per ambulans na die hospitaal geneem, waar die familie kort daarna ingelig is dat hy oorlede is.
Volgens die familie was Rian lief vir tuinmaak, en het hy enige werk gedoen om 'n bestaan te maak.
"Hy was 'n regte mense-mens en het altyd 'n glimlag op sy gesig gehad."
Gelant se ma, Dina, was te ontsteld om self met die koerant te praat. "Ek is gebroke en kan nie vrede maak met dit wat gebeur het nie."
Die familie het gesê dat hulle 'n borgtogaansoek van die verdagte sal teenstaan.
"Daardie vrou hoort nie in ons straat of woongebied nie. Sy het presies geweet wat sy gedoen het en ons glo vas dit was beplan."
Sers. Wesley Twigg het bevestig dat die verdagte op aanklag van moord in die Oudtshoorn-landdroshof sal verskyn.
Rian laat sy ouers, Dina en Heynie, asook sy broer Heinrich en twee susters, Arashia en Lezan, agter. 'n Kranslegging vir Gelant sal op 9 April by die plek waar die insident plaasgevind het gehou word.
Die familie beoog om die begrafnis op Saterdag 11 April te hou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’