OUDTHOORN NUUS - Twee persone is beseer nadat 'n voertuig Saterdagoggend ongeveer 03:00 op die "Piff" in Bridgton teen 'n hoë spoed agteruit gery en bo-oor hulle gery het.
Die "Piff" verwys na die parkeerarea van die winkelkompleks in Zebraweg oorkant die Bridgton-sportterrein waar inwoners naweke bymekaarkom om te kuier.
'n Video oor die voorval is sedertdien wyd op sosiale media versprei waar gesien kan word hoe die voertuig die mense wat op stoele sit en kuier, tref en eenvoudig van die toneel wegjaag.
Stafsersant Ilse Plaatjies van Bloemfontein het haar enkel op twee plekke gebreek en moet nou terug Bloemfontein toe vir 'n operasie. Stafsersant (afgetree) Fernando Saayman het nekbeserings opgedoen.
Beide was vroeg Maandagoggend by Oudtshoorn-polisie om 'n amptelike klag oor die voorval in te dien.
Volgens Saayman het hul rustig gesit en kuier toe die voorval plaasgevind het. 'n Omstander het die voertuig se registrasienommer geneem en aan die polisie oorhandig. "Ons het groot geskrik en was erg geskok."
Volgens Saayman blyk dit of daar heelwat persone in die gemeenskap is wat weet wié die bestuurder van die voertuig was. "Dit is skokkend dat niemand na vore kom met die waarheid nie. Ek het ook verneem dat die bestuurder gevlug het. Ek gaan nie die ding hier laat nie, wat reg is, is reg en wat gebeur het was verkeerd, ons kon erger beseer of selfs dood gewees het."
Op hierdie stadium blyk dit dat die bestuurder van die voertuig op die vlug geslaan het.
VIDEO: Verskaf
Lt.kol. Malcolm Potjie, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat 'n saak van roekeloos en nalatige bestuur geopen is vir ondersoek na die tref-en-trap voorval in Zebraweg. "Voorlopige inligting toon dat 'n wit VW Fox teen 'n hoë spoed in 'n groep mense, wat op die eiland op stoele gesit het, gejaag het en van die stoele afgery het. Twee persone is beseer.
Die onbekende verdagte het weggejaag van die toneel. Geen arrestasie is nog gemaak nie. Die ondersoek duur voort."
Saayman is Maandag 3 Maart terug dokter toe vir 'n verdere mediese ondersoek. Hy het beserings aan sy kop en nek opgedoen.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’