Advertorial
SAKENUUS - Geskiedenis: Die toetsvliegskool, bekend as Test Flying Academy of South Africa (TFASA), mag dalk ietwat onbekend wees vir meeste Oudtshoorniete, maar is alreeds sedert 2010 in Oudtshoorn gevestig. Die stigters, wyle Dave Stock en Jean Rossouw, het deur harde werk en visie die akademie laat groei tot ‘n internasionale erkende entiteit met verskeie takke in die buiteland.
Plaaslik dien Oudtshoorn as TFASA se hoofkwartier met satelliettakke in George en Beaufort-Wes.
Oudtshoorn
Een van die vele plaaslike bene van die maatskappy is die vliegtuigversieningseenheid, TFASA Aircraft Maintenance Organization. Alhoewel hierdie eenheid se hoofdoel is om na die versiening van AIFA-vliegtuie om te sien is die versieningseenheid oop vir enige buitekliënte, ons is ook trots daarop om alle versienings en ombouings van TFASA se eie vloot hier in Oudtshoorn te kan doen. Dit sluit die bekende Impala MK I vliegtuig in.
Die toetsvliegskool, wat ‘n trotse korporatiewe lid is van die internasionale instansie Society of Experimental Test Pilots, se hoofdoel is die opleiding van wêreldklas toetsvlieëniers op vastevlerkvliegtuie sowel as helikopters en dit is ‘n wêrelderkende kwalifikasie. Benewens die bogenoemde aktiwiteite neem TFASA ook deel aan vele lugvaartverwante ontwikkelingsprojekte van verskeie nasionale en internasionale kliënte volgens elkeen se unieke behoeftes.
Vliegtuigvloot
Om aan die behoeftes van die hoofaktiwiteit van TFASA te kan voldoen is verskeie vliegtuigtipes op die inventaris. Daar is kleiner beginnersopleidingsvliegtuie soos die Ikarus, Cessna 150, Cessna 172 sowel as die meer gevorderde tweemotorige-Beechcraft Baron.
Verdere toevoegings tot die vloot is saamgestelde-materiaal-vliegtuie soos die Blackshape Prime-tweesitplek en die akrobatiese kunsvlieg, Extra 300.
TFASA is ook in besit van ‘n Learjet-passasierstraler en ‘n Buckeye T2-vliegdekskipstraler. Die stralervloot is die afgelope 18 maande aangevul met die aankoop van drie ekslugmag Impala-stralers waarvan twee reeds vlieg en een opgebou word vir verdere opleiding.
Alle vliegtuie in die vloot kan toegerus word met vlugtoetsinstrumentasie vir gebruik op toetsvlieënierskursusse. Die instrumentasie word gebruik vir data-opname onder verskillende vlug toestande sodat data-analise en ontleding daarna op die grond uitgevoer kan word. Hierdie analise word dan gebruik om voorgestelde modifikasies of verbeteringe op die betrokke vliegtuigtipes te kan uitvoer.
Ekonomiese impak op Oudtshoorn
Infrastruktuur ontwikkeling. TFASA is hier om te bly. Benewens die huidige infrastruktuur wat reeds op die vliegveld ontwikkel is, beoog TFASA om ‘n addisionele vliegtuigloods en kantoorkompleks by die vliegveld op te rig wanneer die bedrywighede van die akademie uitbrei en dit kan regverdig.
Korporatiewe beeld. TFASA spog met ‘n nuwe korporatiewe aansig soos om meer sigbaar te wees wanneer die hoofingang opgetooi word en vlae begin wapper.
Thundercity
Die welbekende handelsnaam THUNDERCITY, wat eers op Kaapstad lughawe gevestig was, is deur TFASA oorgeneem.
Bedrywighede wat hierin bedryf gaan word sal op nasionale korporatiewe gemeenskappe gemik wees en beloof om deelname van maatskappye te teiken. Hierdie aktiwiteite sal gemik word op vliegverwante simposiums en spanbousessies wat die ekonomie van die dorp ‘n hupstoot behoort te gee.
Wanneer die nuwe vleuel in bedryf is, sal plesiervlugte aan boord van verskillende vliegtuigtipes vir die publiek beskikbaar wees. Datums en kostes sal bekendgemaak word sodra die aktiwiteite ‘n aanvang neem.
TFASA Lodge
Die bekende Boulders Lodge is deur TFASA gekoop en herdoop tot
TFASA Lodge. Boulders Lodge word gedurende buitelandse kursusse uitsluitlik aangewend om studente vir die duur van kursusse te huisves. Wanneer daar nie kursusse aangebied word nie, word dit as kommersiële akkommodasie adverteer en aangewend.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'