OUDTSHOORN NUUS - Ses sakeondernemings is die nuutste lede van die Oudtshoorn-besigheidskamer.
Verteenwoordigers van Klein Karoo Fonds, Nature's Nook, The Boom Shop, Cango Valley Water, PSG Wealth & Financial Planning en Oudtshoorn Plant Hire het Woensdagaand tydens die besigheidskamer se maandelikse netwerkaand hulle sertifikate ontvang.
Tydens die geleentheid het Jaco Vorster, ondervoorsitter van die besigheidskamer, besigheidseienaars aangemoedig om nuut te besin oor ondernemings in die huidige ekonomiese klimaat.
Hy het daarop klem gelê dat enige onderneming, ongeag die grootte deurentyd innoverend moet wees.
"Ons moet nuut dink oor hoe ons besigheid doen, oor hoe ons by veranderinge kan aanpas en nuwe geleenthede raaksien en benut," het hy gesê en daarop gewys dat selfs 'n toevallige besoeker aan 'n onderneming 'n potensiële kliënt is. "Ons moet sorg dat ons so op ons kliënte ingesteld is dat hulle nie by die deur uitstap sonder om iets te koop nie en dan moet ons ook sorg dat ons diens so goed is dat hulle nie oor die berg ry vir besigheid nie."
Die netwerkaand is deur Aifa, geborg. Aifa lei loodse sowel as grondbemanning op by opleidingsentrums in George, Oudtshoorn en Beaufort-Wes. Aifa se hoof van opleiding, Andrea Griessel, het die sakegemeenskap van Oudtshoorn namens Aifa bedank vir die groot steun wat hulle aan die vleigskool verleen.
Tydens die voorstelling van nuwe besigheidskamerlede is voor, van links: Charmaine en Jacqui Jonk (Nature's Nook), Daleen Schoeman (The Boom Shop) en Andrea Griessel (Aifa se hoof van opleiding). Agter: Henco Rademeyer (Klein-Karoo Fonds), Liezl Crause (Cango Valley Water), Daniël Smuts (Oudtshoorn Plant Hire), Jan Lategan (PSG Wealth & Financial planning) en Jaco Vorster (ondervoorsitter van Oudtshoorn-besigheidskamer). Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'