Sponsored Content
SAKENUUS - Nomonde Crèche in Bongolethu, Oudtshoorn, het vandeesweek hul opregte dank uitgespreek teenoor verskeie borge en rolspelers wat gehelp het om die skool te herstel en op te gradeer, nadat dit vir jare deur inbrake en vandalisme geteister is.
Volgens die skoolhoof, Liezl Mapoe, het die crèche sedert 2021 geweldige uitdagings ervaar.“Ons het op ’n stadium sonder toilette, wasbakke, ligte, tafels en stoele gesit. Selfs kos, waterpype, deure, die kragboks en heinings is afgesteel,” het sy gesê.
Ten spyte van dié terugslae het die gemeenskap en borge hul harte oopgemaak om te verseker dat die skool weer ten volle funksioneel is en die beste moontlike diens aan die kleuters kan lewer.
“Ons wil graag Mediclinic Klein Karoo en Lewis bedank vir hul bydraes oor die afgelope jaar. Dankie ook aan Capitec wat ons vanjaar en ook volgende jaar borg. Dankie ook aan die Lelies van die United Congegrational Church wat lekkergoedpakkies geskenk het. Ons rig verder ’n spesiale woord van dank aan die Oudtshoorn Rotariërs wat die skool opgegradeer het,” het Mapoe gesê.
Die opgraderingsprojek het oor twee jaar gestrek en het altesaam R1,1 miljoen beloop. Volgens die Oudtshoorn Rotariërs is die omvangryke opknappingswerk moontlik gemaak deur die ruim ondersteuning van die Wilde Ganzen Foundation en Stedenband Oudtshoorn in Nederland.
Die verbeterings aan die skool sluit die bou van nuwe klaskamers in, wat met kleurvolle en vrolike muurskilderye opgehelder is, asook ’n nuwe kombuis en ’n splinternuwe afdak wat beskerming teen son en reën bied. Daarbenewens is ’n groot krat Duplo-blokkies aan die skool oorhandig om leer deur spel aan te moedig.
Die opgegradeerde Nomonde Crèche is op 1 Augustus amptelik aan die gemeenskap oorhandig, ’n mylpaal wat volgens Mapoe nuwe hoop en stabiliteit vir die skool en sy kleuters bring.
Leerders geniet hulle splinternuwe klaskamers.
Personeel van Capitec saam met Liezl Mapoe.
Die Lelies van Eden van die United Congregarional Church in Toekomsrus het lekkergoedpakkies geskenk.
Lewis Stores het ‘n mikrogolf geskenk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’