OUDTSHOORN NUUS - Dit is belangrik dat landbou en besighede in Oudtshoorn by mekaar betrokke raak tot voordeel van albei en tot voordeel van die dorp.
Dit was die boodskap wat Hennie Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die Kango-landbouvereniging en Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer verlede week benadruk het.
Kango-landbouvereniging was die borg van die besigheidskamer se netwerkaand wat Donderdag 27 Augustus by die Oudtshoorn-gholfklub aangebied is. Janse van Rensburg het die wedersydse rol wat besigheidseienaars en landbouers speel, beklemtoon en hulle genooi om deel te neem aan die jaarlikse gholfdag wat dié vereniging aanbied.
Vanjaar se gholfdag vind Saterdag 5 September plaas.
Op sy beurt het Ferreira gesê dit is verblydend dat 'n landbouvereniging nie net 'n lid van die besigheidskamer is nie, maar ook daadwerklik bydra deur netwerkaande te borg en ook ander funksies aan te bied.
Ferreira het die geleentheid gebruik om gaste aan te spoor om tydens die komende plaaslike verkiesing deel te neem deur op
4 November te gaan stem. "Ons as sakemense kan nie kla as dinge skeefloop en ons doen nie die moeite om te gaan stem nie." Hy het mense ook aangemoedig om by wykskomitees betrokke te raak en raadslede wat verkies word tot verantwoording te roep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’