OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-besigheidskamer het Donderdagaand, 26 Maart, hulle eerste netwerkaand van die jaar letterlik op die drumpel van die KKNK gehou.
Die netwerkaand wat deur Helene Badenhorst (HB) Attorneys geborg is, het by Café Brulé by die Queens Hotel plaasgevind. Met ’n gedeelte van Baron van Reedestraat wat reeds vir hierdie week se KKNK gesluit was, kon gaste sommer in die straat ook kuier.
Die besigheidskamer bied agt netwerkaande per jaar aan waar besighede geleentheid kry om as borge op te tree. Die jaar word met hul AJV in Februarie afgeskop en met ’n gala-aand in November afgesluit. Die netwerkaande is die ideale geleentheid vir besigheidslui om informeel bymekaar te kom en gedagtes uit te ruil. Nuwe lede wat aansluit word ook tydens die netwerkaande verwelkom en bekendgestel.
Donderdagaand is Spoorlyn Craft Spirits, ’n splinternuwe besigheid in die dorp, as nuwe lid by die besigheidskamer verwelkom. Die besigheidskamer het tans 158 besighede van verskillende groottes as lede.
Abri Ferreira, voorsitter van die besigheidskamer, het met sy verwelkoming gesê dit is met elke KKNK vir hom verblydend om te sien hoe al die verskillende rolspelers in Oudtshoorn saamspan vir ’n gemeenskaplike doel.
“Elke jaar se KKNK is moontlik deur absolute spanwerk van soveel verskillende mense, organisasies en departemente en elke jaar is dit ’n groot sukses omdat mense hulle verskille eenkant sit en saamwerk.”
Hy het bygevoeg dat dit nie slegs met die KKNK gebeur nie, maar ook met talle ander geleenthede wat op die dorp plaasvind waar mense saamwerk tot voordeel van die dorp.
Helene Badenhorst, eienaar van HB Prokureurs het beaam dat Oudtshoorn se mense ondanks verskille en selfs besighede wat in kompetisie met mekaar is, dikwels goed saamwerk. Dié prokureursfirma vier vanjaar hulle vyfde bestaansjaar en Badenhorst het benadruk dat die mense van Oudtshoorn lojaal en ondersteunend is en dat dit vir haar en haar span ’n voorreg is om in Oudtshoorn te werk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’