Volgens Cape Wools se Merino-aanwyser het die pryse met 7 persent teenoor verlede week se veiling verstewig tot op ‘n rekordvlak van R109, 91/kg (skoon wol), se Ona Viljoen, Cape Wools se woordvoerder.
“Dit is nie net 4,5% hoër as die vorige seisoen se hoogste vlak nie, maar is ook 25,8% bokant die openingsveiling en bykans 12% hoër as op dieselfde veiling verlede seisoen,” se Viljoen.
In Australië het pryse vandeesweek ook skerp gestyg.
Volgens Viljoen was daar uitstekende mededinging in die veilingslokaal ondanks die groot aanbieding van altesaam 15 723 bale. Sy sê dit was die grootste aanbieding die afgelope twee seisoene en ’n hoë verkooppersentasie van ‘n fenomenale 99% is behaal.
Die rand, wat met bykans 1% teenoor die Amerikaanse dollar verstewig het, het gelukkig weinig invloed op die mark gehad.
Die pryse van alle lang vagwol het gestyg, met 19 mikron wat die grootste styging van bykans 8% aangeteken het.
Die gemiddelde skoonwolpryse van ’n paar lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg:
- 18 mikron was 3,6% duurder op R122,76/kg;
- 19 mikron styg met 7,8% tot R119,77/kg;
- 20 mikron was 6,9% hoër op R111,36/kg;
- 21 mikron verstewig met 6,9% tot R109,63/kg; en
- 22 mikron styg met 6,1% om op R107,56/kg te sluit.
“Produksietoestande in die meeste produksiegebiede was baie goed, wat beteken dat die gehalte van die wol vanjaar besonder hoog is met hoë skoonopbrengste.”
Sy se die vraag uit China het die afgelope paar weke toegeneem. “Dit kan toegeskryf word aan die feit dat voorraad in die tekstielketting baie laag was, en gevolglig is ‘n hoë verkooppersentasie van rondom 98-99% op veilings behaal.
Dit lyk ook of produksie vanjaar kan styg nadat dit die afgelope twee seisoene weens Slenkdalkoors gedaal het. Wol-ontvangste by die makelaars se pakhuise tot op datum is 4,5% hoër vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede seisoen.
Hoewel handelstoestande in Europa na verwagting moeilik gaan bly, word verwag dat die verbruikersvraag na kleding in 2013 kan verbeter. Die Amerikaanse ekonomie toon ’n oplewing, terwyl daar ook tekens van verbetering in die Italiaanse tekstielbedryf is. Italië is ’n belangrike mark vir wol, veral fynwol.
Veilings hervat weer op 9 Januarie 2013.