BEAUFORT-WES NUUS - "Die trane het vlak gelê toe die boere die voer in ontvangs neem," sê Dean Gous, voorsitter van Agri Sentraal-Karoo. "Ek self moes my bril maar dikwels afhaal…"
Boere in die Sentraal-Karoo het die week met groot dankbaarheid voer uit Mpumalanga in ontvangs geneem.
Jannie Neuhoff, 'n boer van Delmas en lid van Agri SA, het 1 500 rolbale oulandsgras aan boere in die Sentraal-Karoo geskenk.
Die konvooi van 31 vragmotors van Hendrik van Wyk Vervoer het Woensdagmiddag in Beaufort-Wes aangekom en is deur hordes mense langs die strate verwelkom.
Daar is dadelik begin om die voer van 16 vragmotors by die skouterrein af te laai, waar die vragmotors Woensdagnag deur sekerheidswagte opgepas is.
Die 16 vragte voer is Donderdagoggend aan boere van die landbouverenigings Nelspoort, Koup no 4, Nuveld, Letjiesbos en Rietbron uitgedeel. Donderdagmiddag is die ander 15 vragmotors na Merweville, Laingsburg en Prins Albert vir die boere daar.
Volgens Gous het Agri Sentraal-Karoo 300 lede wat hoofsaaklik met skape boer. Elke boer het vier rolbale ontvang. Die boere het R50 per baal betaal. Soortgelyke bale voer kos tans tussen R380 en R420.
Die geld is gebruik om die sekerheidswagte te betaal en vir die vragmotorbestuurders iets te ete te gee na hul lang tog. Volgens hom is die landbousituasie werklik benard. "Een van die boere van 80 jaar, sê hy het in sy lewe nog nooit so 'n droogte gesien nie."
Die gemiddelde reënval in die Sentraal-Karoo is 150 mm/jaar maar die afgelope jaar het gemiddeld net 13 mm geval.
Gous sê die meeste boere het nog bietjie boorgatwater vir veesuiping, maar die watertafel het baie gedaal.
Ten einde te oorleef, het die meeste boere hul vee verminder deur dit te laat slag sodat net 'n kernkudde oor is.
"Restaurante kla hulle kry nie lamsvleis te koop nie; ek verwag lamsvleis gaan duur raak."
Volgens hom oorleef boere net-net en sukkel met kontantvloei. Banke is ook nie geneë om vir iemand wat dit dalk nie kan terugbetaal te leen nie.
"Twee van ons boere het reeds hul eie lewens geneem."
Lees 'n verwante artikel: Voer kom in Beaufort-Wes aan
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'