Update
OUDTSHOORN NUUS - Die tien vragte voermielies wat Vrydagnag in die Klein-Karoo aangekom het, is Saterdagoggend op vier plekke in die droogtegeteisterde gebied afgelaai. Ongeveer 130 boere het baat gevind by die skenking van 340 ton mielies.
Die mielies, wat deur die bemiddeling van Burre Burger Droogtehulp deur anonieme boere van Bothaville in die Vrystaat geskenk is, is sowat R1 miljoen werd. Die vervoerkoste van die vragmotors en bestuurders van Pride Bulk Logistics in Mpumalanga wat ongeveer R300 000 beloop, was ook 'n skenking.
Die maatskappy se vragmotors word normaalweg gebruik om steenkool te vervoer. Die ganse skenking is gratis, maar boere wat voer ontvang het kon 'n vrywillige donasie van R50 per sak maak, wat in Burre Burger se Droogtefonds gestort sal word.
Ysreën
Die 10 vragmotors, vergesel deur twee werktuigkundiges en die vlootbestuurder, Louis Kriek, het om 04:00 Donderdagoggend uit Delmas vertrek na plase in die omgewing van Bothaville waar die mielies gelaai is. "Ons het by Wesselsbron bymekaargekom, in Bloemfontein brandstof ingegooi en Donderdagnag by die Gariepdam oorgebly," het Kriek vertel.
Vandaar het die konvooi Volvo-vragmotors Vrydagoggend om 10:00 na Oudtshoorn vertrek. Naby Graaff-Reinet het ysreën hulle vertraag en uiteindelik het die konvooi eers omstreeks 21:30 in Oudtshoorn aangekom. "Een van die vragmotors het gelol en ek het dit self bestuur om te probeer vasstel wat fout is, en het eers halftwee Saterdagoggend hier aangekom," het Kriek gesê.
Die koördineerders wat na die verspreiding van die mielies omgesien het is, van links: George Naude, Ilse Louw, Ebon le Roux, en Lohan en Ernie Fourie.
Met die inisiatief van twee inwoners van Oudtshoorn kon die vragmotorbestuurders koffie, hamburgers en koeldrank geniet nadat hulle in Oudtshoorn aangekom het. Anneline Botha het uit haar eie sak vir elkeen koffie gekoop en Alicia Minnie het hamburgers en koeldrank gekry wat Steers geskenk het.
Na hul helde-ontvangs in Oudtshoorn is hulle na Karoowater naby Calitzdorp-spa, waar hulle oornag het. Sowat 130 boere en hul gesinne het 'n spitbraai, wat vir die span van Pride gereël is, bygewoon. Die span het Saterdag weer daar oornag voordat hulle Sondagoggend die terugtog na Delmas aangepak het.
Aflaaipunte
Drie van die vragte mielies is Saterdagoggend by Saag Jonker se skuur op Badshoogte vir boere van die Laer-Olifantsriviergebied afgelaai. Twee vragte is
in Klokkie Fourie se skuur op Gamka buite Calitzdorp afgelewer, nog twee vragte is na Ebon le Roux se plaas Roodeheuvel in die Kammanassie, en drie vragte is in 'n skuur op Constant de Waal se plaas op Volmoed afgelaai.
Die vragmotors verlaat Karoowater Saterdagoggend onderweg na die vier verspreidingspunte.
Wonderwerk in elke sak
"Elkeen in die gemeenskap het veral nou 'n wonderwerk nodig," het George Naudé, die boer wat die bal aan die rol gesit het deur Burre Burger Droogtehulp te kontak, gesê. "Ek en 'n paar medeboere het onlangs vir die Here gevra vir uitkoms. Hierdie is die wonderwerk: elke sak mielies is 'n wonderwerk wat mense hoop gee. Die Here is al waaraan ons kan vashou, want rykdom beteken niks. My wens is dat ons eendag, wanneer ons oorvloed het, hierdie tien vragmotors kan volmaak met lusern om iemand anders wat swaarkry te help."
Die koördineerders van die verskillende gebiede is Ernie en Lohan Fourie (Gamka), Ebon le Roux (Kammanassie), Ilse Louw (Volmoed) en George Naudé (Laer-Olifantsrivier).
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'