OUDTSHOORN NUUS - Uitstallers wat aan die tweede Kango Agri Expo wil deelneem kan solank hulle vere regskud. Die Expo word vanjaar op 18 Oktober op Klein- Karoo Saadproduksie (KKSP) se proefplaas, Kamnatieloop aangebied.
“Ons nooi landbouverskaffers om stalletjies te bespreek waar hul produkte en dienste kan bekendstel,” sê Chris Botha, voorsitter van die Kangovalleie Boerevereniging, wat verlede jaar die Expo in Schoemanshoek aangebied het. Kobus Theron, koördineerder van die Expo, sê kommersiële- en kleinboere, asook die publiek, word uitgenooi om verskaffers te kom ontmoet en hul nuwe produkte te sien. “Die Expo vind ‘n dag na KKSP se erkenningsfunksie vir saadprodusente plaas – hierdie saadboere sal ook die Expo bywoon.”
Naas die uitstallings sal verskaffers ook demonstrasies aanbied, soos onder meer grondgesondheid, minimum- of geenbewerkingstoerusting, saadvoorbereiding, bespuiting en kalibrering van spuittoerusting, heiningspan en boerepatente.
Die doel met die Expo is om alle Klein-Karoo-boere die geleentheid te gee om diens- en produkverskaffers te ontmoet, en uitstallings sal onder meer landboutoerusting (voertuie en werktuie), besproeiingstelsels, chemiese middels, veevoeding en tegnologie (ook hommeltuie) insluit.
Uitgesoekte kosstalletjies sal kos en drinkgoed aanbied. Hiervoor word ook aansoeke ingewag – besoek die Kango Agri Expo-facebookblad vir meer inligting hieroor. Bespreek kosstalletjies voor 17 Augustus, en verskaffers-stalletjies voor 14 September.
Kontak Susan Botha by 083 500 5900 of Kobus Theron by 079 619 0124 vir meer besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'