OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Jobs4Carbon-projek (J4C), wat die afgelope paar jaar spekboom op plase in die Van Wyksdorp-omgewing hervestig het, het onlangs die eerste kursusse oor erosiebeheer en veldrehabilitasie gedoen.
Dit is die eerste kursus van die Van wyksdorp Development Institute (VDI) en is aangebied deur Wallie Stroebel en Ken Coetzee van Conservation Management Services. Sestien lede van J4C en vier van Hermanuskraal Wildsplaas, Oudewagensdrift en Buffelsdrift Bewarea het die kursus deurloop.
Die teoretiese kursus is by Rooiberg Lodge aangebied, terwyl die praktiese werk in die Rietkraal-natuurreservaat gedoen is. 'n Erg verspoelde area is op Rietkraal identifiseer voordat die korrekte metodes om die erosie te beheer in werking gestel is. "Ons begin altyd by die oorsaak en nie die simptome van die erosie nie," sê Stroebel.
Die doel met erosiebeheer is om die spoed waarmee die water van die hoërliggende gebied tussen dongas afvloei te stuit voordat dit in slote na dongas vloei wat tot onooglike erosie lei en die terrein laer af verder verspoel. Dit word gedoen met behulp van damme waarin plantmateriaal gepak word. Lae slikheinings van spesiaal-geweefde geotekstiel word dwars oor slote gespan. Die heinings vang modderwater, plantmateriaal en -sade op en help om plantegroei te vestig sodat die veld kan herstel.
Wanneer die sterk vloei van die water op die hoërliggende terrein gestuit is, word die hellings van die dongas met pik en graaf tot 'n helling van sowat 30-35 grade afgewerk.
Die hellings word bedek met geotekstiel wat met penne vasgekap word en 'n dik laag plantmateriaal word bo-op gepak. Plante wat voor die tyd uitgehaal is, word teen die helling teruggeplant om verdere erosie te voorkom.
'n Kursus in die beheer van indringerplante word in Augustus aangebied, en 'n kursus in die ontwikkeling van entrepreneurskap word vir September in die vooruitsig gestel. Die kursusse is oop vir enige belangstellendes. Grondeienaars of instansies wat kandidate vir die kursusse wil inskryf kry vir kursusse in die eerste jaar 'n reuse-afslag en betaal slegs R650 in plaas van R6 500 per persoon. Die koste dek die kursus sowel as vier dae verblyf en etes by Rooiberg Lodge.
Vir meer inligting kontak André Britz per WhatsApp by 072 062 8444.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'