Ons, die Titus-familie, wens graag langs hierdie weg ons hartlike dank te betuig vir almal se ondersteuning in ons krisis. Dank aan God vir sy liefde en genade wat ons deurdra en ons die krag gee wat ons dag na dag nodig het.
Die familie is baie dank verskuldig aan verskeie individue en organisasies. Dit ontbreek ons aan woorde om ons waardering vir u bystand uit te spreek. Daar is hopeloos te veel dinge om op te noem. Ons bedank u as breër gemeenskap vir u opofferinge. Die familie is bewus daarvan dat u dikwels verwyte en beledigings vanaf onsensitiewe karakters moes ervaar as gevolg van u ondersteuning aan ons. Ons vra om verskoning vir die ongerief wat u moes verduur. Dit is ons bede dat u ten spyte van u vele uitdagings steeds sal voortgaan om barmhartigheid uit te leef.
Dankie aan die media vir u professionele en simpatieke dekking van ons saak. Ons het groot respek en waardering vir u as joernaliste. Mag u tot hoër hoogtes en groot sukses in u loopbaan styg.
U as polisie, mediese nooddienspersoneel en regslui het onder moeilike omstandighede u taak met toewyding en groot bekwaamheid uitgevoer. U rol in die afhandeling van ons saak is van onskatbare waarde.
Die tyd en wyse van Preston se heengaan is baie traumaties en ons vind dit moeilik om te verwerk. 'n Moeilike twee jaar lê agter ons almal (familie en ondersteuners inkluis) se rug. Ons besef terdeë dat daar ook met gereelde tussenposes moeilike tye sal voorlê. U beloftes van voortgesette ondersteuning op ons pad van heling word hoog waardeer.
Weereens baie dankie aan elkeen vir u ondersteuning.
Groete aan u almal.
Van die diepbedroefde, dog dankbare, Titus-familie