Daar is gereeld mense sonder permitte wat op parkeerplekke stilhou wat vir gestremdes bedoel is. By die Queen's Mall word daar teen hulle opgetree, maar by Checkers en in die dorp word hulle glad nie vervolg of selfs aangespreek nie. Ek wonder of hulle kan indink hoe 'n persoon met gestremdhede sukkel om in 'n normale parkeerplek stil te hou en by sy voertuig in en uit te klim. Is sulke motoriste ongevoelig, onoplettend of gee hulle eenvoudig net nie om nie?
Behalwe vir hulle, is daar 'n ander euwel wat ek dikwels sien. Sommige motors het permitte vir gestremdes, maar by tye word die motor deur mense gebruik wat geen gestremdheid het nie en dan misbruik hulle die plakker om op plekke vir gestremdes te parkeer. Kyk bietjie mooi en mens sal verstom wees hoeveel mense maak hiervan misbruik.
Daar is selfs personeellede wat met gestremdes werk wat hulle organisasie se voertuig gebruik en dan op plekke vir gestremdes parkeer. Wat het geword van mense se integriteit? Hoekom ignoreer sommige bestuurders eenvoudig die reëls en hoekom maak ander misbruik van 'n toegewing en hoekom doen sommige besighede moeite om mense aan te spreek en ander gee nie 'n duit om nie?
Gerhard