Jakkie van der Colf, Pretoria (tot onlangs 'n George-inwoner):
Ek rig hierdie brief met 'n nederige, maar dringende versoek om hulp vanuit die gemeenskap.
Op 17 September 2025 was ek in 'n ernstige fietsongeluk op die N2 naby Thembalethu betrokke. Ek was vir 'n tyd lank bewusteloos en het net kortliks bygekom. In daardie oomblikke het ek besef dat ek in 'n sittende posisie was en dat 'n dame langs my gesit het.
Ek het haar hoor sê dat sy alles gesien het, en ek vermoed dat sy my bygestaan het totdat hulp opgedaag het. Daarna onthou ek baie min, behalwe dat ek 'n deel van 'n polisiebakkie gesien het.
Ek is per ambulans na Mediclinic geneem waar ek opgeneem is. Ná skanderings en ondersoeke is vasgestel dat ek vier ribbes gekraak het en ernstige kopbeserings opgedoen het.
Ek is die volgende dag ontslaan, maar my balans was aanvanklik baie swak. Met verloop van tyd het dit verbeter, hoewel ek steeds onvas op my voete was en vir eers nie weer kan fietsry nie. My regteroogbank is steeds geswel en die sig in my een oog, wat kort voor die ongeluk 'n lensinplanting ontvang het, is soms dof.
Die rede vir hierdie brief is dat kapt. Kok van Thembalethu-polisie en ek graag die dame wil opspoor wat die ongeluk sien gebeur het. Sy word dringend as ooggetuie gesoek, en ek wil haar ook persoonlik bedank vir haar barmhartigheid op die toneel. Kok kan by 083 655 4797 gekontak word.
Ek is oortuig daarvan dat die dame in die omgewing woon en ek hoop van harte dat sy na vore sal kom.
Ten spyte van hierdie terugslag bly ek positief en dankbaar vir elke dag. Op my ouderdom van 84 jaar wil ek steeds ander aanmoedig om aktief te bly. My leuse is: "Wees fiks om te leef" en "As jy iets wil doen, dan kan jy - en daarna sal jy goed voel."